Nuus 08:00
BULLETIN 5 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA eis ‘n onmiddellike ondersoek na Jacob Zuma se besoek aan Indië
# Johannesburg verwelkom Moody’s Ratings se bevestiging en positiewe vooruitsig
# En rugby: Die Bokke skop hul Nasieskampioenskap-veldtog af met ’n oorwinning oor Engeland
# Die Algemene Nywerheidswerkersvakbond van Suid-Afrika, GIWUSA, eis ‘n onmiddellike ondersoek na die doel en befondsing van oudpresident Jacob Zuma se besoek aan Indië. GIWUSA-president, Mametlwe Sebei, sê die ondersoek moet insluit of die reis fondsinsameling vir die MK-party behels het en of enige staatshulpbronne of diplomatieke kanale onbehoorlik gebruik is. Hy sê die hereniging tussen Zuma en die voortvlugtige Ajay Gupta is ‘n regstreekse aanval op die voortdurende pogings om staatsinstellings te bevry van die verwoestende web van korrupsie:
# Te midde van die betogings teen migrante wat elke Donderdag sal plaasvind, eis die African Unite Borders Bus Trucks Association aanspreeklikheid van die owerhede oor onwettige operateurs wat ongedokumenteerde migrasie binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap fasiliteer. Die voorsitter van die vereniging, Mukhwathi Phumudzo, beskuldig die hoof van wetstoepassing van die Oorgrens Padvervoeragentskap, Simon Ditshego, dat hulle nie daarin geslaag het om te verhoed dat onwettige busoperateurs ‘n migrasiekrisis in die land veroorsaak nie:
# Die Stad Johannesburg het die besluit van Moody’s Ratings verwelkom om die Stad se vermoë om sy skuld oor die langtermyn te delg op ‘n Ba3-gradering te bevestig, terwyl die vooruitsig na Positief hersien is. Die stad se woordvoerder, Nthantisi Modingoane, sê dit verteenwoordig ‘n belangrike mosie van vertroue in die Stad se finansiële veerkragtigheid, sy vermoë om sy skuldverpligtinge na te kom en die sterkte van Johannesburg se grondliggende ekonomiese faktore, ten spyte van ‘n uitdagende bedryfsomgewing:
# Parlement se portefeuljekomitee oor Toerisme verwelkom Emirates se bekendstelling van ‘n derde daaglikse vlug na Kaapstad en noem dit ‘n sterk mosie van vertroue in Suid-Afrika as ‘n toonaangewende internasionale toerisme- en sakebestemming. Die bykomende daaglikse vlug sal die aantal beskikbare sitplekke verhoog en verbindings na meer as 140 Emirates-bestemmings verbeter. Die komitee se voorsitter, Ronalda Nalumango, sê die nuwe vlug sal Suid-Afrika se herstelpogings ondersteun, nuwe markgeleenthede in die Midde-Ooste en Asië ontsluit, en handels- en vragverbindings versterk wat landbou, vervaardiging en klein ondernemings bevoordeel.
# En rugby: Die wêreldkampioene het hul Nasieskampioenskap-veldtog gister met ‘n oortuigende oorwinning van 45-21 oor Engeland op Ellispark afgeskop. Dit was Engeland se vyfde agtereenvolgende nederlaag, met die Springbokke wat sedert 1973 gesorg het dat hulle nie op Ellispark wen nie. Die Bokke het Eben Etzebeth en kaptein Siya Kolisi verloor weens laat onttrekkings. Dit het Pieter-Steph du Toit genoodsaak om na slot te skuif, met Cameron Hanekom vir die eerste keer in ‘n Springbok opdrafspan en Paul de Villiers wat sy debuut op regterflank gemaak het. Die gashere het sewe drieë gedruk deur Thomas du Toit, Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Grant Williams, Jesse Kriel, Malcolm Marx en Ben-Jason Dixon, met Kolbe wat vyf daarvan verdoel het.
In gister se ander Nasieskampioenskap-wedstryde het Skotland Argentinië met 47-38 geklop en Wallis vir Fidji met 39-24. Ierland het Australië in Sydney naelskraaps met 33-31 geklop. Japan het Italië met 27-10 gewen, terwyl Nieu-Seeland hard moes werk vir hul oorwinning van 34-32 oor Frankryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….