Nuus 09:00
BULLETIN 4 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU veroordeel die minister van Finansies se verwerping van ‘n welvaartsbelasting
# Die DA sê teenbende-optrede het misluk om misdaadnetwerke te ontmantel
# En sokker: Egipte klop Australië met strafskoppe om die Wêreldbeker-ronde van 16 te haal
# SAFTU is teleurgesteld en veroordeel die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se openlike verwerping van ‘n welvaartsbelasting vir Suid-Afrika. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê die minister se standpunt strook met die pro-ryk fiskale houding wat jare reeds kenmerkend is in die regering en die Nasionale Tesourie. Sy sê die federasie het deurgaans aangevoer Suid-Afrika benodig ‘n progressiewe welvaartsbelasting:
Die adjunkpresident, Paul Mashatile, het Chery Internasionaal aangespoor om plaaslike verskaffers, veral jeugbesighede, te ondersteun namate hy sy bedrywighede in Suid-Afrika uitbrei. Mashatile het by die voormalige Nissan-aanleg in Rosslyn, Tshwane, gesê die belegging behoort werksgeleenthede te skep, vaardighede te ontwikkel en plaaslike besighede help om te groei. Hy het bygevoeg die projek sal Suid-Afrika se motorbedryf versterk en plaaslike vervaardiging bevorder:
Die Motorbedryf-personeelvereniging sê intussen groeiende belegging deur Chinese en Indiese voertuigvervaardigers moet lei tot meer plaaslike vervaardiging en werkskepping in Suid-Afrika. Die vakbond doen ‘n beroep op die regering om te verseker dat nuwe beleggers voertuie en komponente plaaslik vervaardig eerder as om op ingevoerde monteerstelle staat te maak. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging sê beleggings, insluitend die van Chery, behoort bestaande werksgeleenthede te beskerm en nuwe werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners te skep:
# Die DA sê die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se anti-bendestrategie het misluk, nadat hy erken het geen bendes is tydens die eerste fase van Operasie Prosper ontmantel nie. Volgens die party word gemeenskappe op die Kaapse Vlakte steeds daagliks aan bendegeweld onderwerp ondanks die ontplooiing van polisie en soldate. Lisa Schickerling van die DA doen ‘n beroep op intelligensie-geleide polisiëring, sterker speurwerk en spesialisvervolgings wat bendeleiers teiken:
# Pous Leo het Amerika se geskiedenis in die verwelkoming van immigrante geprys tydens sy eerste belangrike toespraak aan sy geboorteland Vrydag. Leo het in ‘n regstreekse toespraak vanuit die Vatikaan aan die Nasionale Grondwetsentrum in Philadelphia gesê hy hoop die waardes van eenheid, geregtigheid en vrede wat die Stigtingsvaders ingestel het, sal Amerika lei soos hy sy 250ste herdenking vier. Die Amerikaanse pous het in die verlede president Donald Trump se immigrasiebeleid as onmenslik gekritiseer. Leo is oorspronklik van Chicago, maar het sedert hy in Mei 2025 die pous geword het, Amerika nog nie weer besoek nie.
# En sokker: Hossam Abdelmaguid het die wenstrafskop aangeteken toe Egipte Vrydag geskiedenis gemaak het en ‘n vasberade Australië 4-2 met strafskoppe geklop het om die Wêreldbeker-ronde van 16 te haal. Die spannende kragmeting in Texas het ná 120 minute met een-elk geëindig. Albei spanne het voor ‘n geskiedkundige geleentheid gestaan, aangesien nie een van hulle vantevore ‘n uitklopwedstryd in ‘n mans-Wêreldbekertoernooi gewen het nie, en moes in ekstra tyd strafskoppe neem. Egipte kom nou in die laaste 16 teen Argentinië en Lionel Messi te staan, nadat die heersende kampioene ‘n nederlaag teen die Wêreldbeker-nuwelinge Kaap Verde afgeweer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….