Nuus 07:00
BULLETIN 4 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra Ramaphosa om op te tree teen werkgewers wat versuim om werknemers se pensioenbydraes te betaal
# Feroz Khan het glo interne inligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gedeel
# En tennis: Naomi Osaka dring vir eerste keer deur na die laaste 16 by Wimbledon
# Die Vereniging van Staatsamptenare het president Cyril Ramaphosa en die regering gevra om beslissende en onmiddellike stappe te doen teen werkgewers wat versuim het om werknemers se pensioenbydraes te betaal. Agterstallige aftreefondse het tot ‘n kommerwekkende 8,3-miljard-rand gestyg, wat byna 590-duisend werkers in Suid-Afrika raak. Die woordvoerder, Claude Naicker, sê enige werkgewer wat hierdie bydraes aftrek, maar versuim om dit oor te betaal, ontneem werkers van hul swaarverdiende aftreegeld:
# Die DA is bekommerd omdat die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshaveni, die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal, in die openbaar gekritiseer het nadat hy oudpresident Jacob Zuma en Ajay Gupta tydens ‘n onlangse besoek aan Indië ontvang het. Ryan Smith van die party sê die probleem is egter die Parlement se portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking is gister meegedeel dat Sooklal skriftelike opdrag deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking gegee is om dit te doen:
# Die Madlanga-kommissie het bewerings aangehoor dat die geskorste adjunk- Misdaadintelligensiehoof, Feroz Khan, interne inligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens met teksboodskappe gedeel het en gehelp het om privaat individue met regeringsverkrygingskanale te verbind. Getuienisleier, advokaat Adila Hassim, sê die boodskappe dui op Khan se beweerde betrokkenheid by ‘n private kommersiële poging wat verband gehou het met ‘n ooreenkoms met die Nasionale Tesourie. Hassim het egter aan die kommissie gesê dis onduidelik of enige ooreenkoms uiteindelik gesluit is:
# Tennis: Naomi Osaka van Japan het Vrydag vir die eerste keer die vierde ronde van Wimbledon gehaal met ‘n oorwinning van 6-1, 6-3 oor die Australiër Daria Kasatkina. Die 28-jarige Osaka het slegs 65-minute nodig gehad om Kasatkina uit te skakel, en sal teen die wêreld se nommer-een, Aryna Sabalenka, of die voormalige Roland Garros-kampioen, Jelena Ostapenko speel. Osaka se gewoonte om in hoogmode-uitrustings op die baan te verskyn voordat sy in haar normale tennisklere speel, veroorsaak opskudding by Wimbledon. Sy het ‘n spierwit tradisionele Japannese seremoniële kimono gedra voor sy teen Kasatkina gespeel het.
Sokker: Vyftig lede van die Europese Parlement het FIFA se etiekkomitee versoek om sy president Gianni Infantino te ondersoek vir die toekenning van ‘n ‘vredesprys’ aan die Amerikaanse president, Donald Trump. Die EP-lede het ‘n brief onderteken ter ondersteuning van ‘n klagte deur die Britse sportmenseregte-belangegroep FairSquare in Desember. Die brief sê FIFA se etiese kode vereis dat Infantino polities neutraal moet bly. FairSquare sê die brief is die belangrikste ingryping deur Europese beleidmakers in wanbestuur en reëloortreding op die hoogste vlak van wêreldsokker sedert die Europese Parlement Infantino se voorganger, Sepp Blatter, in 2015 gevra het om te bedank.
# En ten slotte: CapeNature het die publiek aangemoedig om waaksaam te bly terwyl voëlgriep steeds seevoëls en ander wilde voëls langs die Wes-Kaapse kus raak. Die bewaringsagentskap raai mense aan om nie aan siek of dooie voëls te raak nie, troeteldiere van hulle weg te hou, en waarnemings aan die betrokke owerhede te rapporteer. Luke Folb van CapeNature sê menslike infeksies is steeds skaars, maar raai die publiek aan om kontak met besmette voëls te vermy:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….