Nuus 14:00
BULLETIN 3 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die verwerping van Matlala se pleitooreenkoms ontbloot tekortkominge in die vervolgingsgesag
# Iran begin met ‘n openbare routydperk vir die ajatolla ná hy in Februarie dood is
# En Pick n Pay stuur ‘n K-I-gedrewe aanlyn inkopie-metgesel van stapel
# Die DA vra verantwoording oor die hantering van die tenderpreneur Vusimusi “Cat” Matlala se pleit- en vonnisooreenkoms nadat die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof die ooreenkoms verwerp het. Jan de Villiers van die party het die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, versoek om te verduidelik wie die ooreenkoms in die polisie-Medicare24-tendersaak van miljoene-rand goedgekeur het en watter stappe gedoen sal word om ‘n soortgelyke situasie in die toekoms te verhoed:
# Die Madlanga-kommissie het gehoor direkteure van die Carnilinx-tabakmaatskappy is mislei om te glo ‘n regskenner kan senior Inkomstediens-amptenare beïnvloed. Die bewyse het na vore gekom tydens getuienis oor die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan. Getuienisleier Adila Hassim het gesê die betrokke raadgewer het herhaaldelik beweer hy het invloedryke kontakte, onder meer Johann van Loggerenberg en Ivan Pillay. Volgens Hassim het die direkteure later vasgestel dié bewerings is onwaar:
Nuus uit die buiteland:
# Iran het begin met verskeie openbare dae van rou en begrafnisoptogte vir sy voormalige opperleier, ajatolla Ali Khamenei, meer as vier maande nadat hy in Amerikaanse en Israelse aanvalle dood is. Sy liggaam lê van vandag in staatsie in die Groot Mosalla in Teheran voor Donderdag se begrafnis in sy tuisdorp, Mashhad. Iranse owerhede sê hul verwag 12- tot 20-miljoen mense op wat hulle die begrafnis van die eeu noem.
# Rugby: Louis Rees-Zammit sal môre in sy gunstelingposisie as vleuel vir Wallis speel in die Nasieskampioenskapstoets teen Fidji in Cardiff. Hy het in al vyf die span se Sesnasies-wedstryde heelagter gespeel. Die hoofafrigter, Steve Tandy het ses veranderinge aan die groep aangebring wat die Barbarians verlede naweek op Twickenham 33-31 geklop het en die nommer 15-trui aan Blair Murray gegee. Vroeër is berig die voormalige heelagter Leigh Halfpenny het by Wallis se bestuurspan aangesluit as skopafrigter vir die kampioenskap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-672-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-177-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Pick n Pay het ‘n nuwe kunsmatige intelligensie-gedrewe inkopie-metgesel op sy Asap! kruideniersware-afleweringsplatform bekendgestel. Klante kan nou die K-I-metgesel, genaamd Penny, vra wat hulle benodig met stemopdragte en Penny sal die items in hul mandjies voeg. Die kleinhandelaar sê die metgesel reageer in enige taal, en klante kan ook woorde of foto’s gebruik om produkte by hul mandjies te laat voeg. Dit sal vanaf Maandag beskikbaar wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….