Nuus 09:00
BULLETIN 3 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Chery International se verkryging van Nissan se Rosslyn-vervaardigingsaanleg ondersteun werkskepping
# Minister Kubayi sê die regering is daartoe verbind om grenssekerheid te versterk
# En sokker: ‘n Spannende Wêreldbeker-kragmeting lê voor tussen Spanje en Portugal
# Adjunkpresident Paul Mashatile lewer vandag die hoofrede by Chery International Factory se verkrygingsviering in Tshwane. Dit volg na die Mededingingstribunaal se goedkeuring dat hy Nissan Suid-Afrika se voertuigaanleg in Rosslyn, Gauteng, koop. Die ooreenkoms baan die weg vir Chery om vir die eerste keer voertuie in die land te vervaardig ná Nissan se besluit om voertuigvervaardiging daar te staak. Die Presidensie sê Chery International se verkryging is ‘n betekenisvolle oorgang in eienaarskap en ondersteun ekonomiese groei, werkskepping en plaaslike vervaardiging.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering is vasbeslote om grensveiligheid te versterk saam met ‘n groter poging om die oppergesag van die reg te onderhou en migrasie te bestuur. In haar amp as die tussentydse voorsitter van die Inter-Ministeriële Komitee oor Migrasie het sy gister ‘n waarnemingsending na die terrein van die nuwe tydelike repatriasiesemtrum in Musina, LImpopo gedoen. Kubayi sê die komitee se doel is om seker te maak die land se immigrasiereëls word respekteer en onderhou en dat grense veilig is:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê hulle sal die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Tafelberg en die lewering van bekostigbare behuising in welgeleë gebiede oorweeg. Die saak hou verband met die terrein van die gewese Tafelberg Skool in Seepunt. Aktiviste meen dit moet vir bekostigbare behuising gebruik word eerder as om dit privaat te verkoop. Die hof het bevind die provinsie en die Stad Kaapstad het nie hul grondwetlike plig nagekom om die apartheid-era ruimtelike ongelykheid aan te spreek nie. Simmers sê volgens die beslissing moet bekostigbare behuising versnel word.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het Rusland se jongste aanvalle op Kiëf en ander Oekraïnse stede ten sterkste veroordeel. Minstens 27 mense is dood en 91, insluitend twee kinders, is beseer toe Rusland Woensdag ʼn groot hommeltuig- en missiel-aanval op Kiëf uitgevoer het. Guterres se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê tussen Desember 2025 en Mei vanjaar het burgerlike ongevalle in Oekraïne met 40-persent toegeneem teenoor dieselfde tydperk die vorige jaar:
# Sokker: Die tweemalige kampioene, Spanje, het die Wêreldbeker se laaste 16 gehaal met ʼn gemaklike 3-0-oorwinning oor Oostenryk in Los Angeles. Mikel Oyarzabal se twee doele en een van Pedro Porro het die Europese kampioene se sege verseker. Spanje se oorwinning is hul eerste in die uitklopfase van die Wêreldbeker sedert hul triomf in Suid-Afrika in 2010. In Toronto het Portugal ʼn agterstand ingehaal en Kroasië met 2-1 verslaan na ʼn doel deur Cristiano Ronaldo en Goncalo Ramos se wendoel in die 94ste minuut. Portugal en Spanje takel mekaar Maandag in Dallas
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-370-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….