Nuus 06:00
BULLETIN 3 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beskuldig die MK-party van die aanhitsing van immigrasiebetogings
# ‘n Man word lewend gevind nadat hy agt dae lank vasgekeer was na die aardbewings in Venezuela
# En rugby: Steve Borthwick kondig sy Engelse span aan om die Springbokke te trotseer
# Die ANC sê die MK-party se retoriek voor Dinsdag se protesoptogte teen ongedokumenteerde migrante, het onrus en verdeeldheid aangemoedig. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het aan die media gesê MK het anti-immigrante-sentiment aangevuur en beklemtoon dat immigrasiewette deur middel van protesoptogte of vergelding afgedwing moet word. Mbalula het bygevoeg terwyl die party optrede teen onwettige immigrasie steun, hy geweld en intimidasie teen buitelandse burgers verwerp:
# Die Madlanga-kommissie sê hy sal geen spesiale voorwaardes bekend maak vir die getuienis van die vermeende misdaadleier, Vusimuzi “Cat” Matlala, volgende Dinsdag nie. Hy word daarvan beskuldig dat hy ‘n misdaadsindikaat bedryf het wat verhoudings met senior polisiebeamptes en persone met politieke invloed aangegaan het om ondersoeke te beïnvloed, staatskontrakte te bekom en wetstoepassingsoperasies te ondermyn. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê Matlala se saak is ingewikkeld:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê hulle sien uit na samewerking met die pas aangestelde minister David Maynier om biodiversiteitsbewaring, klimaatsveerkragtigheid, volhoubare ontwikkeling en werkskepping deur die groen-ekonomie te bevorder. Die departement bly verbind tot die beskerming van Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne terwyl ekonomiese geleenthede uitgebrei word. Maynier se leierskap kom op ‘n belangrike tydstip terwyl Suid-Afrika voorberei vir belangrike internasionale omgewingsvergaderings later vanjaar.
# Die Gautengse Departement van Menslike Nedersettings sê hulle sal begin om mense wat onwettig staatsbefondsde huise beset, uit te sit nadat hofbevele verkry is. Die huise sal teruggeëis word, waar nodig opgeknap word, en teruggegee word aan kwalifiserende begunstigdes wat al jare lank op behuising wag. Tahir Sema van die Departement sê onwettige besetting en grondbesettings ondermyn die behuisingsprogram en vra inwoners om huisroofsindikate by die polisie aan te meld:
# ‘n 44-jarige sekuriteitswag is gister lewend gevind nadat hy agt dae lank onder die puin van ‘n ineengestorte winkelsentrum vasgekeer was na Venezuela se twee aardbewings. Volgens berigte was Hernán Alberto Gil Flores aan diens in ‘n klein betonhokkie in die kelder van die parkeerterrein langs die Galerias Playa Grande-winkelsentrum in Catia La Mar toe die aardbewings verlede week plaasgevind het. Dit blyk dat sy hokkie hom teen verpletterende puin beskerm het. Byna twee-duisend-300 mense is in die aardbewings dood, en duisende word steeds vermis.
# Rugby: Engeland se hoofafrigter Steve Borthwick het George Furbank, Immanuel Feyi-Waboso en George Martin in die beginspan ingesluit vir hul Nasieskampioenskap-openingswedstryd teen Suid-Afrika op Ellispark in Johannesburg môre. Die trio keer terug nadat hulle lank nie toetsrugby gespeel het nie. Jamie George sal die span aanvoer, met die gereelde kaptein Maro Itoje wat uitrus. Die fikse, 21-jarige Henry Pollock is op die bank. Borthwick sê om teen Suid-Afrika op Ellispark te speel, is een van die grootste toetse in wêreldrugby en ‘n geleentheid wat hulle opgewonde is om aan te gryp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-456-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-123-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….