Nuus 18:00
BULLETIN 2 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula vra ‘n bewysgebaseerde artikel 89-ondersoek na president Ramaphosa
# Die Departement van Landbou verwelkom die nuwe groep veeartse wat toegang tot markte sal versnel
# En sokker: Minister Gayton McKenzie sê Pitso Mosimane is die regte kandidaat om Hugo Broos op te volg
# Die ANC sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die Parlement se artikel 89-ondersoek na president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-saak moet deur bewyse en ‘n behoorlike regsproses gelei word. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie gesê die ANC glo die proses moet nie oorhaastig gedoen word nie, en vra die Nasionale Vergadering om te wag vir die hofuitspraak in September voor hy voortgaan. Mbalula sê enige ondersoek moet staatmaak op getoetste bewyse wat onder eed aangebied word om die integriteit van die grondwetlike proses te beskerm:
# Die Departement van Landbou het ‘n nuwe groep veeartse by sy In- en Uitvoereenheid verwelkom. Dit volg nadat Suid-Afrika stadig maar seker toegang tot belangrike internasionale markte verkry en sy landbouhandel versterk. Die woordvoerder van die departement, Prince Mtsweni, sê die veeartse se kennis sal nuwe uitvoermoontlikhede ontsluit en die heropen van markte ondersteun wat deur die uitbreking van bek-en-klouseer geraak is:
# Die Staatsdienskommissie se kommissaris, Anele Gxoyiya, sê staatsdepartemente se versuim om fakture binne 30 dae te betaal, bly ‘n probleem en oortree die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Volgens die Nasionale Tesourie het provinsiale en nasionale departemente teen die einde van die derde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar 90-duisend-856 fakture ouer as 30 dae nog nie betaal nie. Die randwaarde van hierdie fakture beloop 15,5-mijard-rand. Gxoyiya sê die nie-betaling van fakture druis in teen die regering se visie van ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en armoedeverligting.
# Die burgemeester van Kiëf, Vitali Klitschko, het aangekondig môre sal ‘n dag van rou in die Oekraïense hoofstad wees nadat minstens 18 mense dood en meer as 90 beseer is, toe Rusland vanoggend honderde hommeltuie en missiele afgevuur het. Verskeie ontploffings het Kiëf geskud terwyl duisende inwoners in bomskuilings en ondergrondse metro-stasies geskuil het. Stadsamptenare sê daar is steeds mense wat in beskadigde geboue vasgekeer is. Die aanval was die dodelikste sedert Mei toe 24 mense dood is nadat ‘n woonstelblok getref is.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, geloof vir die herstel van trots in die nasionale span. Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog het Sondag geëindig met ‘n nederlaag van 1-0 teen die mede-gasheer, Kanada, in Los Angeles nadat die span die eerste keer in sy geskiedenis die uitkloprondes gehaal het. McKenzie sê Pitso Mosimane is die regte kandidaat om Broos op te volg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-940-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-133-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….