Nuus 15:00
BULLETIN 2 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA waarsku die ANC oor die koalisieregering
# Die minister van Vervoer gelas ‘n ondersoek na die dodelike busongeluk naby Touwsrivier
# En krieket: MCC-lede is gevra om Sondag se vroue-Wêreldbekereindstryd op Lord’s by te woon
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê hulle sal nie langer swyg wanneer die ANC versuim om ander partye te raadpleeg of toegewings te maak in die regering van nasionale eenheid nie. Hy het in Sandton, Johannesburg, aan partylede gesê die ANC moet die magsdelings-ooreenkoms respekteer. Hill-Lewis beskuldig die ANC dat hy sleutel-ekonomiese beleid sonder voldoende raadpleging deurvoer en beklemtoon dis die DA se grondwetlike plig om sy koalisievennoot tot verantwoording te roep:
# Die Madlanga-kommissie het die sakeman Tumelo Nku se getuienis onbepaald verdaag om ernstige veiligheidsredes. Die besluit volg op sy aanvullende verklaring ná deeglike ondervraging oor die dwelm-inbraak in Aeroton, Gauteng, in 2021. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê die veiligheidsrisiko’s is beduidend en die ondersoek gaan met uiterste versigtigheid voort. Hy sê die formaat van Nku se getuienis sal later bepaal word en in camera-verrigtinge word nie uitgesluit nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het haar meegevoel betuig aan die gesinne van 16 mense wat dood is in ‘n busongeluk op die N1 naby Touwsrivier in die Wes-Kaap. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die bus het 78 passasiers na Idutywa in die Oos-Kaap vervoer toe dit vanoggend omgeslaan het. Twintig mense is beseer. Msibi het bevestig ‘n ondersoek is gelas en ‘n verslag word binne 48-uur verwag:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal in die Russiese missiel- en hommeltuigaanval op die Oekraïense hoofstad, Kiëf, het tot 17 gestyg terwyl meer as 90 mense beseer is. Hommeltuie en missiele het woongebiede getref en ‘n gebou van nege verdiepings het gedeeltelik ingetuimel. Dit volg op die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, se waarskuwing oor ‘n moontlike nuwe vlaag aanvalle. Moskou sê hy het militêre en energie-aanlegte sowel as lughawens geteiken uit vergelding vir Oekraïense aanvalle op sy burgerlike infrastruktuur. Oekraïne se onlangse aanslag op energie-aanlegte het ‘n brandstofkrisis in Rusland veroorsaak.
# Krieket: Lede van die prestigeryke Marylebone (Marly-bone)-krieketklub in Londen is gevra om Sondag se eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue op hul veld, Lord’s, by te woon. Uitvoerende hoof Robert Lawson het die versoek gerig om ‘n herhaling te voorkom van 2017 se eindstryd toe die lede-pawiljoen half-leeg was. Hy het MCC-lede gevra om op te daag ongeag wie van Engeland of Suid-Afrika die eindstryd teen Australië haal. Die twee lande speel vandag in die tweede halfeindstryd. Die MCC is vroeër gekritiseer as steeds hoofsaaklik vir mans.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-209-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-63-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….