Nuus 09:00
BULLETIN 2 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê as die ooreenkoms tussen Amerika en Iran voortgaan, kan verdere brandstofprysverlagings verwag word
# ActionSA veroordeel die Stad Kaapstad se besluit om migrante-repatriasie te befonds
# En minstens twee mense sterf in ‘n reeks Russiese missielaanvalle op Kiëf
# Die ANC sê die aansienlike daling in brandstofpryse wat gister van krag geword het, wys hoe belangrik dit is om gesonde ekonomiese bestuur te handhaaf wat bestendigheid en groei ondersteun. Die prys van 93-oktaan petrol is 2-rand-01-sent per liter laer en 95-oktaan is 1-rand-96-sent per liter goedkoper. Dieselpryse het met tussen 3-rand-14-sent en 3-rand-58-sent per liter gedaal. Die ANC sê indien die ooreenkoms tussen Amerika en Iran hou, en olietenkskepe weer soos normaal beweeg, sal brandstofpryse in Suid-Afrika in die komende maande verder afneem.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die gesamentlike benadering van al die afdelings van die regering het Dinsdag aansienlik gehelp om openbare orde te bewaar en ook die grondwetlike regte van landsburgers te beskerm. Hy het gisteraand al die premiers, LUR’e verantwoordelik vir gemeenskapveiligheid en burgemeesters van metropolitaanse munisipaliteite ontmoet na Dinsdag se betogings teen onwettige immigrante. Die woordvoerder van die minister, Kamogelo Mogotsi, sê hy het gewaarsku waaksaamheid moenie verslap nie aangesien daar aanduidings is dat betogings elke Donderdag kan voortgaan tot die plaaslikeregeringsverkiesing:
# ActionSA het die Stad Kaapstad se besluit om munisipale fondse te gebruik om met die repatriasie van ongedokumenteerde migrante te help, skerp veroordeel. Die party sê dit volg slegs dae nadat ‘n ontstellende 48-persent verhoging in die pryse MyCiTi se buskaartjies nog meer druk op inwoners se lewenskoste geplaas het. Dereleen James van ActionSA sê die befondsing van vervoer van ongedokumenteerde migrante is die plig binne die mandaat en finansiële verantwoordelikheid van die nasionale regering. Sy sê dit laat ernstige vrae ontstaan oor die metro se bestedingsprioriteite:
# Rusland het oornag tientalle kruis- en ballistiese missiele op Kiëf in Oekraïne afgevuur. Minstens twee mense is dood en elf is beseer. Die aanval het talle woongeboue vernietig en ‘n hotel in Kiëf se middestad beskadig. Oekraïne het die afgelope maand ʼn ongekende veldtog met langafstand-hommeltuie teen Rusland gevoer met energie-infrastruktuur in hul visier. Volgens berigte gebruik Rusland nuwe tegnieke in sy massa-aanvalle op Oekraïne. Hy vuur meer ballistiese missiele af om Kiëf se tekort aan Patriot-lugafweerstelsels uit te buit. Hy fokus ook op nuwe, belangriker teikens.
# Sokker: Amerika, Engeland en België is deur na die Wêreldbeker se laaste 16. Amerika het Bosnië-Herzegowina in Santa Clara met 2-0 verslaan. Met kaptein Harry Kane se twee doele het Engeland van agter gekom en die Demokratiese Republiek die Kongo in Atlanta met 2-1 getroef. Dis die eerste keer in 60 jaar dat Engeland ʼn agterstand inhaal om ʼn Wêreldbeker-uitklopwedstryd te wen. In Seattle het België met Senegal afgereken en hulle in ekstra tyd met 3-2 geklop. Amerika kom nou teen België te staan terwyl Engeland en mede-gasheerland, Mexiko, sake uitspook.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-691-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-62-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….