Nuus 07:00
BULLETIN 2 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis antwoorde oor die diplomatieke ontvangs vir Ajay Gupta
# Die Parlement soek duidelikheid oor die beweerde bande tussen Starlink en Resolve Communications
# En rugby: Manie Libbok verwag ‘n hewige stryd teen Engeland
# Die DA sê Suid-Afrika moet nie gesien word as ‘n land wat vergaderings fasiliteer of individue betrek wat met korrupsiebewerings verbind word nie. Die party het parlementêre vrae aan die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, voorgelê oor berigte dat voormalige president Jacob Zuma en die staatskaping-beskuldigde Ajay Gupta tydens ‘n besoek aan Indië ontvang is. Ryan Smith van die DA sê regeringsverteenwoordigers moet verseker dat staatshulpbronne nie gebruik word om die land se anti-korrupsie-houding te ondermyn nie:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, eis ‘n verduideliking van minister Solly Malatsi, oor bewerings wat Starlink en die firma, Resolve Communications, betref. Die gewese minister van Landbou, John Steenhuisen, beweer Resolve, wat deur Tony Leon gestig is, het vergaderings tussen regeringsamptenare en sy klante gekoördineer om hulle te oorreed om beleidsveranderinge te ondersteun. Die komiteevoorsitter, Khusela Sangoni Diko, sê hierdie bewerings wek kommer oor geskiedkundige voorvalle in die land tydens staatskaping, toe privaat belange wou inmeng by regerings-belange en uitvoerende besluite.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê president Cyril Ramaphosa se onlangse kabinetskommeling sal nie Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings verbeter nie, tensy dit met beleidshervorming gepaard gaan. Die organisasie waarsku die aanstelling van nuwe ministers sonder om die bestaande beleidsraamwerk te verander sal nie werkloosheid onder die jeug, ekonomiese groei verbeter of beleggings verhoog nie. Anlu Keeve van die instituut sê die land se ekonomiese uitkomste het vir jare swak gebly weens onveranderde beleidsrigtings, en ten spyte van veranderings in leierskap.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê hulle is gereed om betekenisvolle onderhandelings met organiseerders van betogings teen onwettige immigrasie aan te knoop en voorstelle vir ʼn permanente oplossing te formuleer. Provinsiale polisie het 154 mense vasgetrek wat verbind word met voorvalle tydens Dinsdag se optogte in die provinsie. Die polisie monitor steeds 27 brandpunte in Gauteng. Lesufi sê dis noodsaaklik dat die migrasiekrisis hanteer word:
# Amnestie Internasionaal beskuldig die Soedannese paramilitêre Rapid Support Forces van misdade teen die mensdom en etniese suiwering. Die groep het aangeteken hoeveel burgerlikes sedert vroeg in 2024 en Oktober 2025 in en om El Fasher doodgemaak, beseer, geslaan, gemartel en aangehou is. Dit was terwyl die RSF teen Soedan se gewapende magte en die Gesamentlike Magte in Noord-Darfoer geveg het. Amnestie Internasionaal sê die RSF se misdade sluit in moord, gedwonge verplasing, gevangenisskap, marteling, verkragting en seksuele slawerny. Hy sê die oorlog in Soedan is ʼn oorlog teen burgerlikes.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok sê hulle maak gereed vir ʼn strawwe kragmeting teen Engeland in hul Nasieskampioenskap-openingswedstryd Saterdag op Ellispark. Die span het gister hulle voorbereiding afgesluit. Engeland se afrigter, Steve Borthwick, kondig sy span vandag aan. Libbok, wat sy rol as spelleier volstaan en seker maak die Bokke speel op die regte plekke, sê dis sy werk om die span aan te dryf:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-765-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-64-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-47-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….