Nuus 17:00
BULLETIN 1 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie belowe voortgesette optrede ná landwye betogings
# Feroz Khan se regsverteenwoordiger sê sy toestand is steeds bedenklik
# En sokker: Orlando Pirates bevestig Relebohile Mofokeng se skuif na België
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê die polisie sal voortgaan met optrede na gister se landwye massa-optogte teen ongedokumenteerde migrante. In ‘n media-inligtingsessie het die adjunk- Nasionale Polisiekommissaris, Tebello Mosikili, gesê die polisie bly daartoe verbind om vinnig op te tree teen enigiemand wat openbare veiligheid bedreig, terwyl hulle ook verseker dat burgers hul grondwetlike reg op vreedsame betogings kan voortsit:
# Die Madlanga-kommissie het gehoor die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, is steeds in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal. Sy regsverteenwoordiger, advokaat Zubair Khan, sê Khan kan weens sy toestand nie verdere opdragte gee nie. Khan sou na verwagting getuienis lewer voor die kommissie, maar is afwesig nadat hy Sondagaand ‘n sluipmoordpoging in Johannesburg oorleef het. Hy het ook ‘n mediese verslag ingedien waarvan sekere besonderhede verwyder is:
# City Power se waarnemende hoof, Charles Tlouane, sê regeringsinstellings moet ‘n voorbeeld stel en hul munisipale rekeninge betaal. Regeringsinstellings skuld die nutsdiens meer as 270-miljoen-rand, terwyl klante se skuld 13,3-miljard-rand beloop. Die staat se gesondheidsdienste skuld die grootste deel van die uitstaande bedrag. Tlouane sê City Power bly verbind om wettige rekening- en rekening-verwante probleme op te los deur onderhandelings met regeringsdepartemente. Hy sê inkomste wat van klante ingevorder word, is noodsaaklik vir instandhouding, opknapping van infrastruktuur, bedryfskoste en belegging in toekomstige netwerke.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika se buitelandse beleid word steeds gelei deur ‘n strewe na vrede, ontwikkeling, multilateralisme, solidariteit en ‘n reëlgebaseerde internasionale orde. Hy sê diplomasie is belangriker as ooit, namate internasionale betrekkinge hervorm word deur mededinging oor strategiese hulpbronne, kritieke minerale, kunsmatige intelligensie, tegnologiese vernuwing en globale voorsieningskettings. Lamola beklemtoon die toenemend ingewikkelde aard van internasionale betrekkinge vereis ook breër maatskaplike deelname aan besprekings oor buitelandse beleid.
# Sokker: Orlando Pirates het ‘n ooreenkoms met die Belgiese klub Royale Union Saint-Gilloise bevestig vir die middelveldspeler Relebohile Mofokeng se oorplasing, onderhewig aan mediese en persoonlike voorwaardes. Die ooreenkoms is voor die FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi gesluit, maar vertroulik gehou. Mofokeng het gister van die Los Angeles Internasionale Lughawe gevlieg om die skuif te finaliseer. Bafana Bafana se afrigter Hugo Broos het aan die SABC gesê Mofokeng het die talent om te slaag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-603-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-22-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….