Nuus 09:00
BULLETIN 1 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die algehele vreedsame landwye betogings
# ‘n Geregtelike doodsondersoek word geopen nadat ‘n buitelander van ‘n gebou in Durban spring
# En sokker: Frankryk, Noorweë en Mexiko is deur na die ronde van 16 by die Wêreldbeker
# Die ANC loof die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners wat gister tydens optogte teen onwettige immigrasie, hul grondwetlike reg om vreedsaam en verantwoordelik te betoog, uitgevoer het. Die polisie het op geïsoleerde voorvalle van plundery en poging tot plundery gereageer en talle mense gearresteer. Die waarnemende ANC-woordvoerder, Nonceba Mhlauli, sê hulle gee toe Suid-Afrikaners het geldige bekommernisse oor onwettige immigrante en die uitwerking daarvan op openbare dienste, werksgeleenthede, misdaad en die oppergesag van die reg, maar dit moet deur wettige en demokratiese prosesse hanteer word:
# Die Nasionale Vergadering se adjunkspeaker, Annelie Lotriet, het ingestem om die EFF se mosie van wantroue teen die speaker, Thoko Didiza, te skeduleer. Dis egter onderworpe aan verskeie prosedurele wysigings wat nog aangebring moet word. Lotriet sê sommige van die aantygings in die mosie moet moontlik ooreenkomstig die Nasionale Vergadering se reëls aangepas of verwyder word. Die EFF beskuldig Didiza dat sy versuim om die Parlement se institusionele gesag te beskerm nadat sy nie president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek dat die Ampsklagkomitee sy werk staak, gekeer het nie.
# Polisie in KwaZulu-Natal het ‘n dossier geopen nadat ʼn buitelander dood is toe hy na bewering van ʼn gebou afgespring het. Die voorval het in Margaret Mncadi-laan in Durban plaasgevind. ʼn Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê volgens berigte het drie buitelandse burgers by ʼn pakstoor ingebreek en drie dae lank daar gebly toe die voorval gebeur het:
# Die uitgaande Britse eerste minister, Keir Starmer, sê die nuwe Verdedigingsbeleggingsplan gaan sterk reageer teen die groeiende bedreigings vir Brittanje. Die plan van ongeveer 6,48-duisend-miljard-rand sluit beleggings in vir ‘n vloot van vier kernwapenduikbote, ammunisie en wapens om voorraad te verhoog. Daar is ook beleggings in innoverende tegnologie, wat die manier verander waarop weermagte met behulp van kunsmatige intelligensie veg. Starmer sê die plan sal teen 2029 die militêre begroting tot 2,7-persent van die bruto binnelandse produk verhoog:
# Sokker: Kylian Mbappé het vir Frankryk geskitter toe die tweemalige Wêreldbeker-kampioene Swede met 3-0 in New Jersey verslaan het vir ‘n ontmoeting met Paraguay in die ronde van 16. Mbappé het twee doele aangeteken en is nou een agter die Argentyn Lionel Messi as een van die voorste puntemakers ooit. In Dallas het Noorweë die Ivoorkus met 2-1 gewen vir ‘n ontmoeting met die vyfmalige kampioene Brasilië in die laaste 16. Intussen het mede-gashere Mexiko, Ecuador met 2-0 verslaan. Hulle sal in die ronde van 16 teen Engeland of die Demokratiese Republiek die Kongo te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-57-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-974-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….