Nuus 07:00
BULLETIN 1 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bring veranderinge aan sy kabinet aan
# Suid-Afrikaanse burgers word geprys vir vreedsame betogings
# En die Mededingingskommissie mag nie banke vervolg nie
# President Cyril Ramaphosa het veranderinge aan sy Kabinet aangebring. Dit sluit almal behalwe een van DA-leier, Geordin Hill-Lewis, se versoeke in. Willem Aucamp is die nuwe minister van Landbou en David Maynier die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing. John Steenhuisen verskuif na adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Alexandra Abrahams is die nuwe adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Jack Bloom is adjunkminister van Water en Sanitasie, en die adjunkminister van Hoër Onderwys is Yusuf Cassim. Ramaphosa het ook Dina Pule as minister van Maatskaplike Ontwikkeling aangestel.
# Die Inter-ministeriële Komitee oor Migrasie sê Suid-Afrikaners moet geloof word nadat hulle hul grondwetlike reg om te betoog gister vreedsaam en verantwoordelik uitgevoer het. Betogings teen onwettige immigrante het landwyd hoofsaaklik vreedsaam verloop. Die polisie het op geïsoleerde voorvalle van plundering en pogings tot plundering gereageer. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê dié wat kies om die optogte vir misdaad uit te buit, sal met die volle mag van die gereg te doen kry:
# Die Konstitusionele Hof het die Mededingingskommissie se appèl teen die meeste van die 28 banke wat beskuldig is dat hulle saamgesweer het om die rand te manipuleer, van die hand gewys. Dit onthef banke soos Standard Bank, Nedbank, FirstRand en Bank of America van blaam. Die hof het bevind die kommissie se vervolging van die banke spruit voort uit gebrekkige feitelike aannames. Die hoogste hof laat egter toe dat die kommissie se appèl teen BNP Paribas, JP Morgan Chase, HSBC en Standard Americas Incorporated voortgaan.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sê hy sal voortgaan met regs- en interregeringsprosesse nadat die Hooggeregshof in Pretoria ‘n dringende poging om die instelling van die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings fase twee te stop, verwerp het. Die organisasie bly bekommerd oor die befondsingsmodel en die impak op munisipale begrotings wat reeds onder druk is. Sebang Motlhabi van SALGA voer aan daar was nie voldoende konsultasie met die plaaslike regering nie:
# Die veiligheidsbedreiging in die Straat van Hormoes is tot aansienlik verhoog terwyl die gevaar van seemyne ernstig bly en opruimingsoperasies voortgaan. Die Amerikaanse weermag het Sondag verdere aanvalle op teikens in Iran uitgevoer, ‘n dag nadat dit Teheran getref het uit vergelding vir ʼn hommeltuigaanval op ʼn vragskip in die seestraat. Iran het wraak geneem met ʼn missiel- en hommeltuig-operasie op agt Amerikaanse weermag-terreine in Koeweit en Bahrein. Die Gesamentlike Maritieme Inligtingsentrum sê vaartuie gaan egter voort om sonder onderbreking deur die seestraat te vaar.
# Krieket: Die sesmalige kampioene, Australië, is na drie jaar weer in die T20-Wêreldbeker vir vroue se eindstryd nadat hulle die Wes-Indiese Eilande by die Oval met agt paaltjies verpletter het. Die Wes-Indies is tot 125 vir sewe beperk. Daarna het Beth Mooney ʼn onoorwonne 61 van 36 balle aangeteken en Australië het die teiken gehaal met sewe boulbeurte oor. Australië kom in Sondag se eindstryd op Lord’s óf teen Engeland óf Suid-Afrika te staan. Mooney sê dis spesiaal om nog ʼn eindstryd te haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-396-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-980-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….