Nuus 06:00
BULLETIN 1 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# March and March onderneem om weekliks betogings teen onwettige immigrasie te hou
# Die Amerikaanse Hooggeregshof beslis teen Trump se pogings om geboortereg-burgerskap te beëindig
# En rugby: Luan Giliomee en Markus Muller is in die Junior Bokke se beginspan vir die wedstryd teen Georgië
# Die leier van die teen-immigrasie-burgergroep March and March, Jacinta Ngobese-Zuma, sê die beweging sal elke Donderdag vir die volgende ses maande protesoptogte hou. Dit is om volgehoue druk op die regering te plaas om ongedokumenteerde buitelandse burgers te deporteer en immigrasiewette af te dwing. Duisende mense het gister reg oor die land die strate ingevaar uit protes teen ongedokumenteerde migrante. Die betogings was grootliks vreedsaam, met geweld wat in sekere gebiede uitgebreek het en arrestasies wat gemaak is. Ngobese-Zuma sê hulle sal die regering se reaksie op die eise wat tydens die optogte ingedien is, evalueer.
Intussen het duisende ongedokumenteerde Malawiese burgers nog ‘n nag by die Musina-skougronde naby die Beitbrug-grenspos in Limpopo deurgebring, nadat hulle gister buite die kantoor van Binnelandse Sake in rye gestaan het. Die groep, wat Maandag per bus van Durban en Pietermaritzburg vervoer is, soek dokumente om deur die Beitbrug-grenspos te gaan. Teen gistermiddag is slegs drie-duisend-en-99 Malawiërs en Zimbabwiërs deur die grenspos. Die Musina-kantoor van Binnelandse Sake sê hulle word oorval deur duisende Malawiese burgers wat dokumente soek om hulle toe te laat om huis toe te gaan.
# Die Madlanga-kommissie het bewerings aangehoor dat medewerkers van generaal-majoor Feroz Khan vir ’n MK-partylid in die parlement, Vusi Shongwe, ‘n Checkers-sekuriteitstender en tien-miljoen-rand aangebied het om Khan se ondersoek te beeïndig. Die geld sou na bewering in Sandton oorhandig word. Shongwe het ontken hy het enige omkoopgeld aanvaar en het bewerings dat hy beïnvloed is, verwerp. Hy het aan die kommissie gesê as hy die geld sou aanvaar, sou hy dit aan liefdadigheidsorganisasies gee en aan die parlement rapporteer:
# Die DA in Gauteng sê die provinsie se omgewingsbegroting van 646-miljoen-rand vir 2026/2027 is nie genoeg om die toenemende besoedeling en ‘n omgewingskrisis te behartig nie. Die party het teen die begroting gestem en gesê inwoners word daagliks geraak deur swak luggehaltemonitering, rioolbesoedeling in riviere en swak beplanning vir klimaatsverandering. Leanne de Jager van die DA sê verminderde befondsing het besoedeling in nywerheidsgebiede soos Ekurhuleni en Tshwane vererger:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het beslis teen president Donald Trump se poging om geboortereg-burgerskap in Amerika deur middel van ‘n uitvoerende bevel te beëindig. In die 6-3-uitspraak, is herbevestig dat enigiemand wat in die VSA gebore is, ‘n burger is, selfs al is die ouers nie. Die adjunk-personeelhoof van die Withuis, Stephen Miller, sê die uitspraak is een van die mees vernietigende en skandalige beslissings in die lang geskiedenis van die Hooggeregshof. Hy sê Amerikaanse burgerskap is nie die geboortereg van die wêreld nie; dit behoort slegs en uitsluitlik aan Amerikaners.
# Rugby: Die jong losskakel van die Haaie, Luan Giliomee sal die Junior Bokke se nommer tien-trui dra in Donderdag se Junior Wêreldkampioenskap-wedstryd teen die gashere Georgië. Hy is van heelagter geskuif, terwyl nog ‘n ander wonderkind, die Stormers se Markus Muller, op binnesenter inkom. Die afrigter Kevin Foote het die veranderinge gemaak nadat sy span Uruguay Saterdag met 104-7 in hul openingswedstryd geklop het, met slegs vier spelers van daardie groep wat nog in die span is. Giliomee en Muller was teen Uruguay op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-500-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-15-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….