Nuus 07:00
BULLETIN 2 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê minister Ramokgopa het misluk om die Energie-aksieplan in werking te stel
# Die Oekraïnse president verwelkom nuwe befondsing van 929-miljard-rand deur die Europese Unie
# En motorsport, Mercedes bevestig sy paaie met Lewis Hamilton gaan skei
# Die DA sê dis duidelik die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het klaaglik misluk om die Energie-aksieplan in te stel. President Cyril Ramaphosa het die plan in Julie 2022 bekend gestel as die padkaart waarvolgens beurtkrag beëindig en die langtermynvolhoubaarheid van energievoorsiening in Suid-Afrika bevorder sou word. ‘n DA-woordvoerder, Samantha Graham-Maré, sê Ramokgopa het nie die werking van Eskom se opwekkingsvloot verbeter nie en het toegekyk hoe die energiebeskikbaarheidsfaktor vinnig afneem:
# ActionSA het kommentaar ingedien op die witskrif op immigrasie. Die party wil spesifieke besonderhede hê oor wat dit bereik. Die witskrif oor burgerskap, immigrasie en toevlugsbeskerming is ingestel met die doel om die migrasiestelsel op te knap. Alle belanghebbendes is genooi om kommentaar op die dokumente te lewer. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die dokument stel nie gepaste maatreëls voor om die kwessie aan te pak nie:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het sy hartseer uitgespreek oor die dood van ʼn graad ses-leerder van die Modiselle Primary School in Ga-Rankuwa, noordwes van Pretoria. Die leerder het volgens berigte uit die skoolbus geval waarna die bus se agterwiele oor hom gery het. Die LUR se woordvoerder, Xolani Mkhwemte, sê die tragiese voorval het gistermiddag plaasgevind toe leerders ná skool huis toe vervoer is:
# Die vakbond Solidariteit het ‘n ultimatum van tien dae uitgereik teen die Noordwes-Universiteit om voorskrifte te herroep wat na bewering rassediskriminasie bevorder. Die voorskrifte vereis dat 80-persent van aanstellings uitsluitlik swart moet wees, wat kommer wek oor die stelselmatige verwydering van wit werknemers. Die universiteit word versoek om hierdie praktyke te verduidelik en reg te stel. Solidariteit se adjunk uitvoerende hoof, Anton van der Bijl, beskryf die beleid as afgryslik en blatant rassisties. Die universiteit loop deur onder wydverspreide kritiek oor sy beweerde diskriminerende bonusstelsel wat aan rassedemografie gekoppel is.
# Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, het die hulppakket van 929-miljard-rand verwelkom waarop al 27 leiers van die Europese Unie ooreengekom het. Die fondse is sedert Desember geblok nadat Hongarye se eerste minister, Viktor Orban, die ooreenkoms by ʼn vorige beraad verwerp het. Die pakket wat oor vier jaar uitbetaal word, is om Oekraïne se ekonomie te midde van die oorlog teen Rusland aan die gang te hou, met kontant vir hospitale, skole, en staatsamptenare se salarisse en pensioen. Zelensky sê die befondsing sal die land se langtermyn- ekonomiese en finansiële stabiliteit versterk.
# Motorsport: Mercedes het bevestig die sewemalige Formule Een-kampioen, Lewis Hamilton, sal die span aan die einde van die seisoen verlaat om by Ferrari aan te sluit. Hy het die vrystellingsopsie gebruik wat deel was van die kontrak wat hy verlede Augustus onderteken het. Die Brit het sedert die 2013-seisoen vir die Silver Arrows gejaag en ses van sy sewe wêreldtitels saam met die span gewen. Hamilton sê sy besluit om weg te gaan was een van die moeilikste, maar die tyd is reg om ʼn nuwe uitdaging aan te pak. Hy sluit volgende seisoen met ʼn veeljarige kontrak by Ferrari aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-49-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-52-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….