Nuus 13:00
BULLETIN 30 June 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Massa-repatriasie van Zimbabwiërs word aangekondig met befondsing van 50-miljoen-rand
# Die regering kondig reuse-brandstofprysverlagings vir Julie aan
# En rugby: Die losvoorspeler Elrigh Louw is na die Springbokke se Nasieskampioensgroep opgeroep
# ‘n Noue bondgenoot van die Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa, het 50-miljoen-rand bewillig om die repatriasie van sowat 20-duisend Zimbabwiese burgers uit Suid-Afrika te ondersteun. Dit het ten doel om vervoer- en logistieke koste vir vrywillige terugkeer te dek en die druk op Zimbabwiese migrante in Suid-Afrika te verlig. Die aankondiging volg te midde van toenemende migrasiedebatte en ‘n oplewing in grensverkeer op die Beitbrug-grenspos in Limpopo. Owerhede sê die projek mik daarna om te verseker die terugkeer van betrokke burgers vind op ‘n ordelike en goed gekoördineerde wyse plaas.
Intussen het Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, buitelandse burgers versoek om nie hul huise te verlaat om aan te meld by repatriasiesentrums nie, te midde van toenemende anti-immigrasiespanning. Hy beklemtoon geen persoon of groep het die gesag om mense uit hul gemeenskappe te dwing nie, en immigrasiewette moet deur middel van wettige prosesse afgedwing word. Hill-Lewis vra kalmte en waarsku teen geweld, en sê die oppergesag van die reg moet uitdagings hanteer:
# Die vakbondfederasie Cosatu is bekommerd oor berigte van ‘n tekort aan aanklaers by die Nasionale Vervolgingsgesag. Die NVG het winsgewende vroeë aftree-ooreenkomste met senior aanklaers aangegaan, wat gelei het tot die vertrek van minstens 47 ervare vervolgers einde April. Matthew Parks van Cosatu sê die geraamde vakaturekoers van tot 600 is egter meer kommerwekkend terwyl die samelewing sukkel met onaanvaarbare vlakke van misdaad en korrupsie:
# Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het aangekondig reuse-brandstofprysverlagings tree om middernag in werking. Die prys van 93-oktaan loodvrye petrol sal met twee-rand-een-sent per liter daal en 95-oktaan petrol met een-rand-96-sent per liter. Die departement se woordvoerder, Lerato Ntsoko, sê dieselpryse daal met tussen drie-rand-14- en drie-rand-59-sent per liter, en lampolie-pryse met vyf-rand-23-sent per liter:
# Rugby: Hoofafrigter Rassie Erasmus het die losvoorspeler Elrigh Louw na die Springbokgroep opgeroep vir die Nasieskampioenskap as bykomende dekking. Hy sluit vandag in Johannesburg by sy spanmaats aan. Louw het die laaste van sy 13 toetse in November 2024 teen Wallis gespeel, en was verlede jaar op die krukkelys met ‘n ernstige kniebesering. Hy is vanjaar terug en het beïndruk vir die Bulle. Die Bokke begin hul Nasieskampioenskaps-veldtog Saterdag op Ellispark teen Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-209-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-22-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….