Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die viermalige kampioen, Duitsland, is uit die Wêreldbekertoernooi geskakel toe hy in Boston met strafskoppe teen Paraguay verloor het. Die telling was na bykomende tyd steeds een-elk. Kai Havertz, Nick Woltemade en Jonathan Tah het hul kanse verspeel en Paraguay het die uitspeelstryd 4-3 gewen. Hulle speel in die laaste 16 teen Swede of die tweemalige kampioen, Frankryk. In Houston het Brasilië Japan 2-1 verslaan en pak nou Ivoorkus of Noorweë. Marokko het Nederland 3-2 met strafskoppe geklop en speel volgende in Monterey teen die medegasheer, Kanada.
# Rugby: Die afrigter van die Springbokke, Rassie Erasmus, sê hy het sy sterkste moontlike span gekies omdat hy ‘n groot aanslag van Engeland verwag in Saterdag se Nasieskampioenskaptoets op Ellispark in Johannesburg. Kaptein Siya Kolisi en Eben Etzebeth is die twee spelers met meer as 100 wedstryde elk, terwyl Cameron Hanekom die mees onervare is met slegs een toets. Erasmus sê dis belangrik om ‘n groep met ervaring te kies, gekombineer met ‘n paar jonger spelers wat bewys het hulle kan op hierdie vlak presteer.
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vroue, Laura Wolvaardt, het haar span gevra vir ‘n dapper kolfvertoning in Donderdag se T20-Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland op die Oval in Londen. Suid-Afrika het gesukkel om ‘n middelmatige teiken te jaag tydens Sondag se laaste groepswedstryd teen Bangladesj op Lord’s, en Wolvaardt is veral gefrustreerd omdat sy vir ‘n nulletjie uitgehaal is. Sy is vasbeslote om Donderdag van voor af te lei. Australië en die Wes-Indiese Eilande pak mekaar in vandag se eerste halfeindstryd, met die eindstryd wat Sondag plaasvind.
Nog krieketnuus: Brendon McCullum is geensins van plan om uit te tree as Engeland se hoofafrigter nie. Engeland het die beslissende toets teen Nieu-Seeland op Trent Bridge verloor en die reeks 2-1. Die Swartpette is nou die eerste besoekers in 14 jaar om ‘n reeks van drie of meer toetse in Engeland te wen. Kaptein Ben Stokes se toetsloopbaan het geëindig met sy eerste tuis-reeksnederlaag. McCullum sê sy toewyding aan Engeland is onwrikbaar:
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, en die sewemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, is deur na die tweede ronde van Wimbledon. Sinner het die Serwiër Miomir Kecmanovic geklop terwyl Djokovic met Wu Yibing van China afgereken het. Die Pool Hubert Hurkacz het Casper Ruud van Noorweë verslaan. In die vroueafdeling het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Serwiese kwalifiseerder, Teodora Kostovic, gemaklik verslaan. Die Franse Ope-naaswenner, Maja Chwalinska van Pole, is uitgeskakel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….