Nuus 08:00
BULLETIN 30 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VN sal die teen-migrante-betogings monitor
# Die Menseregteraad onthul die wydverspreide voorkoms van seksuele geweld in skole
# En tennis: Sinner, Djokovic en Sabalenka is op die wenpad by Wimbledon
# Die Verenigde Nasies sê hy gaan betogings teen ongedokumenteerde immigrasie in Suid-Afrika noukeurig monitor. Teen-migrasiegroepe, insluitend March and March en Operasie Dudula, gaan na verwagting vandag massabetogings teen onwettige immigrasie regoor die land hou. VN-woordvoerder Stéphane Dujarric sê dit is belangrik dat betogings kalm en beheersd bly, met volle respek vir menseregte. Hy sê die VN ondersteun nasionale pogings wat daarop gemik is om maatskaplike samehorigheid te bevorder, xenofobie te voorkom en migrasiebestuur te verbeter:
Die Solidariteit-beweging het intussen gesê hy ondersteun die afdwing van ferm en wettige immigrasie maar verwerp intimidasie en geweld as plaasvervangers vir die oppergesag van die reg. Die beweging sê hoewel hy die geldige frustrasie oor onwettige immigrasie, misdaad en staatsmislukking erken, sal vergelding, intimidasie en die verdagmaking van buitelandse burgers Suid-Afrika se krisis net vererger. Hy voeg by frustrasie moet gerig word op die beleidsmislukkings wat die krisis veroorsaak het, nie op kwesbare mense nie.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê die land het nie ‘n tekort aan regsraamwerke om seksuele geweld in skole te hanteer nie. Die probleem is fragmentasie, vertraagde integrasie en ongelyke toepassing. Die kommissie het ʼn verslag vrygestel wat op ʼn verstommende toename in gevalle van seksuele geweld teen leerders by skole dui. In die 2024/2025-boekjaar is 26-duisend-855 voorvalle van kindermishandeling aangemeld, waarvan nege-duisend-857 seksuele geweld was. Die Menseregtekommissie se kommissaris, Tshepo Madlingozi, het aan die SABC gesê onder-rapportering is kommerwekkend:
# Andy Burnham wat moontlik die volgende Britse eerste minister gaan wees, het beloof om die grootste magsverandering ooit in die land te verseker. Hy het verlede Maandag aangekondig dat hy teen Keir Starmer gaan staan vir eerste minister. Burnham sê hy gaan ʼn Nommer 10 Noord vestig as middelpunt van ʼn veranderde Brittanje om toesig te hou oor ʼn afwenteling van mag en hulpbronne na burgemeesters en plaaslike owerhede reg oor die land. Hy sê hy sal dinge anders doen:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, en sewemalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na die tweede ronde by Wimbledon. Sinner van Italië het die Serwiër, Miomir Kecmanovic, geklop terwyl Djokovic met Wu Yibing van China afgereken het. Die Pool, Hubert Hurkacz, het Casper Ruud van Noorweë verslaan. In die vroueafdeling het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus die Serwiese kwalifiseerder, Teodora Kostovic, gemaklik verslaan. Die Franse Ope-finalis, Maja Chwalinska van Pole, moes teen Mananchaya Sawangkaew van Thailand die knie buig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-908-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-970-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….