Nuus 06:00
BULLETIN 30 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê griewe moet deur demokratiese instellings aangespreek word
# Donald Trump moet ‘n rubriekskrywer meer as 80-miljoen-rand betaal
# En rugby: Rassie verwag ‘n verbete stryd teen Engeland
# President Cyril Ramaphosa sê die regering spreek wettige bekommernisse, wat Suid-Afrikaners oor onwettige immigrasie, grensbestuur en druk op openbare dienste geopper het, op ‘n wettige wyse aan. Groepe teen onwettige migrante beplan om vandag reg oor die land te betoog en te eis dat onwettige buitelandse burgers die land verlaat. Hulle beweer dat hulle werk by landsburgers afneem en toegang tot gesondheidsdienste en onderwys beperk. In sy weeklikse nuusbrief verklaar Ramaphosa die land word deur die oppergesag van die reg regeer, en beklemtoon dat griewe deur demokratiese instellings aangespreek moet word.
‘n Koalisie van mediavryheidsorganisasies het intussen aanvalle op buitelandse burgers en dreigemente teen joernaliste veroordeel. Die koalisie sê daar was berigte van geweld, intimidasie en dwarsboming van joernaliste, insluitend pogings om hulle te dwing om beeldmateriaal en dreigemente te verwyder terwyl hulle oor voorvalle met migrante berig het. Shenilla Mohamed van Amnestie Internasionaal Suid-Afrika doen ‘n beroep op die polisie om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir dreigemente en geweld aanspreeklik gehou word:
# Die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, sê die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se media-inligtingsessie in Julie 2025, het nie ‘n nuwe probleem blootgelê nie. Hy het gister aan die Madlanga-kommissie gesê georganiseerde misdaad infiltreer die strafregstelsel reeds jare lank, en Mkhwanazi is lankal bewus daavan en na bewering betrokke daarby. O’Sullivan sê ‘n fluitjieblaser, soos Mkhwanazi, moet skoon hande hê:
# Die DA in die Wes-Kaap sê Transnet se belegging van 96-miljoen-rand in vier nuwe hibriede stapelkrane by die Kaapstadse houerterminaal is te min en te laat om die hawe se voortgesette uitdagings aan te spreek. Noko Masipa van die party sê ernstige opeenhopings veroorsaak dat duisende tonne van die provinsie se vrugte-uitvoere na hawens in die Oos-Kaap herlei word, wat koste vir produsente verhoog:
# Die Hooggeregshof het Maandag geweier om ‘n appèl van president Donald Trump te aanvaar oor ‘n uitspraak van 80-miljoen-rand dat hy E. Jean Carroll misbruik en belaster het. Dit beteken die president moet die tydskrifrubriekskrywer nou betaal. Carroll se prokureur, Roberta Kaplan, sê die Hooggeregshofbeslissing bevestig eens en vir altyd die jurie se eenparige uitspraak dat Trump Carroll seksueel aangerand en belaster het. Die president se regspan het in ‘n verklaring gesê Amerikaners staan saam met Trump en eis ‘n onmiddellike beëindiging van al die heksejagte teen hom.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hy het sy sterkste moontlike span gekies omdat hy ‘n groot aanslag van Engeland in Saterdag se Nasieskampioenskaptoets op Ellispark in Johannesburg verwag. Kaptein Siya Kolisi en Eben Etzebeth is die twee seniors in die span met minstens 100 wedstryde elk, terwyl Cameron Hanekom die mees onervare is met slegs een toets. Erasmus sê dit is belangrik om ‘n groep met ervaring, gekombineer met ‘n paar jonger spelers te kies wat bewys het hulle kan op hierdie vlak presteer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-267-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-13-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….