Nuus 17:00
BULLETIN 29 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Siviwe Gwarube bevestig Spesiale Ondersoekeenheid-leefstyloudits by Basiese Onderwys
# Vyf mense is dood in ‘n skietery by ‘n Duitse jeugfasiliteit
# En sokker, die minister van Sport, Minister McKenzie, loof Bafana Bafana se baanbreker-Wêreldbekerprestasie
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het bevestig die Spesiale Ondersoekeenheid het begin met leefstyloudits in die departement. Die oudits vorm deel van pogings om aanspreeklikheid te versterk, onverklaarbare rykdom te verklaar en korrupsie binne die departement te beveg. Woordvoerder Lukhanyo Vangqa sê die projek weerspieël die regering se verbintenis tot etiese leierskap, deursigtigheid en goeie bestuur. Hy sê amptenare sal aanspreeklik gehou word waar oortredings of onverklaarbare finansiële winste geïdentifiseer word:
# Die vermeende polisie-informant Tumelo Nku het aan die Madlanga-kommissie gesê ‘n gesprek met sy geestelike leier het hom aangemoedig om die volle waarheid voor die kommissie te ontbloot. Nku het onthul dat hy sekere dele van sy vorige verklarings uit vrees terug te hou. Hy het ‘n aanvullende verklaring by die kommissie ingedien. Nku word geïmpliseer in die beslaglegging van 715 kilogram kokaïen in Aeroton, Johannesburg, en sameswering met korrupte polisiebeamptes:
# Sassa sê hy is gereed om streng op te tree teen korrupte amptenare in sy eie geledere wat bedrog pleeg, as deel van pogings om die integriteit van die maatskaplike toelaestelsel te beskerm. Die uitvoerende hoof, Themba Matlou, waarsku vandag in ‘n verklaring daar sal geen tolleransie wees vir personeel wat betrokke is by oortredings, insluitend bedrog en korrupsie nie. Hy sê interne ondersoeke en dissiplinêre prosesse word versterk om aanspreeklikheid te verseker en openbare vertroue in die administrasie van maatskaplike toelaes regoor Suid-Afrika te herstel.
# Vyf mense is vroeër vandag dood in ‘n skietery by ‘n jeugwelsynsfasiliteit in die Noord-Duitse stad, Stade. Volgens berigte is verskeie ander mense in die voorval beseer. Die polisie sê hulle het twee vermeende oortreders, insluitend die beweerde skieter, in hegtenis geneem. ‘n Ondersoek na die omstandighede duur voort. Die gebied is opgeruim en volgens die polisie is daar geen voortgesette bedreiging vir die publiek nie, maar owerhede het mense wel gevra om die gebied te vermy.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Bafana Bafana geprys vir hul baanbrekersprestasie tydens die Wêreldbekertoernooi en sê die span het ‘n nuwe hoofstuk in die Suid-Afrikaanse sokkergeskiedenis geskryf. Hy beklemtoon hul veerkragtigheid, spanwerk en geskiedkundige vordering tot die uitklopfase as ‘n bepalende prestasie, ondanks ‘n naelskraapse nederlaag teen Kanada. McKenzie prys die spelers, afrigtingspersoneel en beheerliggaam, SAFA, vir hul bydraes, en vra groter belegging in skolesport en talent-ontwikkeling.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-949-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-40-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….