Nuus 06:00
BULLETIN 2 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Jacob Zuma se reaksie op sy skorsingsbrief is nie belangrik nie
# Die Nasionale Vergadering stem later die maand oor die verwydering van John Hlophe en Nkoala Motata
# En krieket, Nieu-Seeland hoop op hulle eerste toetsreeks-oorwinning oor Suid-Afrika
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party sal voortgaan met dissiplinêre stappe teen oudpresident Jacob Zuma, selfs al reageer hy nie op die skorsingsbrief nie. Zuma se lidmaatskap is Maandag opgeskort omdat hy die ANC se grondwet oortree en die party in oneer gebring het, deur sy betrokkenheid by die stigting van die uMkhonto we Sizwe Party. Mbalula sê die Nasionale Uitvoerende Komitee is daartoe verbind om organisatoriese dissipline te handhaaf en die ANC se grondwetlike raamwerk te bewaar:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik versoek ondernemings wat dien op die rade vir Sektoronderwys en -opleiding om ondersoek in te stel na ongerymdhede en om amptenare aanspreeklik te hou. Die Nagraadse Instituut vir Finansiële Wetenskappe beweer 700 gegradueerdes beskik nie oor amptelike sertifisering van die SETA vir Versekering nie en sê spookleerders ontvang nagemaakte sertifikate. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenhage, wys op die erns van die bewerings en onderneem om aansprake oor korrupsie daadwerklik met INSETA op te neem, met verklikkers in gesprek te tree, en verslae dienooreenkomstig op te volg.
# Die Nasionale Vergadering sal op die 21ste van hierdie maand stem oor die verwydering van die Wes-Kaapse Regterpresident, John Hlophe, en afgetrede Regter, Nkoala Motata. Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste het in November verlede jaar besluit om aan te beveel dat die Nasionale Vergadering die verwydering van beide regters ondersteun, nadat die Regterlike Dienskommissie bevindings van growwe wangedrag teen hulle gemaak het. Hlophe betwis sy vervolging in die hof. ’n Tweederde-meerderheid in die Nasionale Vergadering is nodig om ’n regter te verwyder.
# Die Gautrain-bestuursagentskap se nuwe uitvoerende hoof, Tshepo Kgobe, sê die handhawing van ‘n hoë bedryfsdoeltreffendheid en goeie bestuur, wat tot elf agtereenvolgende skoon oudits gelei het, is vir hom belangrik. Kgobe neem oor by William Dachs en beoog om die agentskap finansieel volhoubaar te maak. Hy beplan eiendomsontwikkeling rondom stasies, vergroeningsontwikkeling en oorskakeling na waterstofaangedrewe vervoer. Kgobe beoog Gautrein-gebiede as spilpunte vir sake-, kleinhandel- en sosiale bedrywighede, vir ekonomiese groei en werkskepping:
# Die VSA het glo planne goedgekeur vir ‘n reeks aanvalle in Irak en Sirië teen verskeie teikens, insluitend Iranse personeel en fasiliteite. Dit volg na ‘n hommeltuig-aanval waarin drie Amerikaanse soldate in Jordanië, naby die Siriese grens, dood is. Die VSA het ’n Iran-gesteunde militante groep vir die aanval geblameer. Verskeie Iran-gesteunde groepe in die Midde-Ooste het aanvalle op Amerika en Israeliese teikens verskerp, te midde van Israel se voortslepende oorlog teen Hamas. Die Amerikaanse minister van verdediging, Lloyd Austin, sê hulle sal nie aanvalle op Amerikaanse troepe duld nie:
# Krieket: Nieu-Seeland sal Suid-Afrika nie onderskat in die reeks van twee toetse wat Sondag in Mount Maunganui begin nie, al het die besoekers ‘n onervare span. Agt spelers in die Protea-groep moet nog hulle toets-buiging maak omdat die gereelde spelers almal tuis gebly het vir die SA20. Uit Nieu-Seeland word verneem die Swartpette het gelet op die Windies se onverwagte oorwinning oor Australië in die tweede toets in Brisbane. Die Kiwis hoop nog op hulle eerste toetsreeks-oorwinning oor Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-147-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-53-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….