Nuus 11:00
BULLETIN 29 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen beskuldig Hill-Lewis en die DA-binnekring dat hulle sy ondergang beplan het
# Die polisie begin ‘n hoëvlak-ondersoek ná ‘n skietery op Misdaadintelligensie se adjunkhoof, Feroz Khan
# En sokker: Hugo Broos is nog nie gereed om sy uittrede te bevestig ná die einde van Bafana Bafana se Wêreldbekerveldtog nie
# Die gewese DA-leier, John Steenhuisen, beskuldig die party se binnekring vir sy ondergang en sê die leier, Geordin Hill-Lewis, het hom vir die hiënas gegooi. Hill-Lewis het president Cyril Ramaphosa gevra om die party se kabinets-verteenwoordigers te verander en Steenhuisen van minister van Landbou na adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging te verskuif. Steenhuisen het aan News24 gesê ʼn reklame-firma van oud-DA-leier Tony Leon, Resolve Communications, voer ʼn veldtog teen hom:
# Ramaphosa het glo die ANC persoonlik opdrag gegee om sy ingryping te laat vaar vir die hersieningsaansoek wat die onafhanklike Artikel 89-paneelverslag oor die Phala Phala-skandaal betwis. Die party het verlede week sy aansoek teruggetrek om aan die saak deel te neem. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het vroeër besluit om nie Ramaphosa se hersieningsaansoek teen te staan nie. Volgens Sunday Times volg Ramaphosa se ingryping na ‘n plofbare vergadering van die nasionale werkskomitee, waartydens van sy naaste bondgenote openlik bevraagteken het of die ANC moet voortgaan om hom te verdedig.
# Die polisie het ‘n hoëvlak-ondersoek begin ná die moordaanslag op die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan. Hy is gisteraand in Johannesburg geskiet en is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die waarnemende kommissaris, Puleng Dimpane, het opdrag gegee dat die taakspan vir politieke moorde by die ondersoek betrek word om te verseker elke moontlike leidraad word opgevolg en die skuldiges word tot verantwoording geroep:
Nuus uit die buiteland:
# Pakistan het ‘n intelligensie-gedrewe grondoperasie en presisie-lugaanvalle langs sy grens met Afganistan uitgevoer waarin 29 militante dood is. Dit volg nadat drie lede van die Pakistanse paramilitêre mag Sindh Rangers Saterdag in hul hoofkwartier in Karatsji dood is. Afganistan se Taliban-regering sê die aanvalle het woonhuise getref en nie militante se skuilplekke nie. Hy het Pakistan se aanval veroordeel as ‘n misdaad en ‘n gruweldaad. Die jongste toename in geweldpleging volg ondanks die wapenstilstand tussen die twee lande wat in Oktober verlede jaar aangegaan is.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy gaan nog besin oor sy toekoms. Hy het vroeër gesê hy kan dalk vertrek wanneer Suid-Afrika se Wêreldbeker-reis tot ‘n einde kom. Gister se nederlaag teen Kanada het ‘n einde gebring aan ‘n geskiedkudige veldtog waarin Bafana die eerste keer die uitklopfase van die toernooi gehaal het. Broos sê wat hy ookal besluit, gaan nie maklik wees nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-928-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-60-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….