Nuus 08:00
BULLETIN 28 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versoek tradisionele leiers om die spanning te verlig voor 30 Junie
# Die Parlement bevraagteken die afhanklikheid van buitelandse akademici by universiteite
# En ‘n kouefrontwaarskuwing word vir die Wes-Kaap uitgereik
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se tradisionele konings en koninginne versoek om hul morele gesag te gebruik om onverdraagsaamheid en onbestendigheid te ontmoedig voor Dinsdag se betogings teen ongedokumenteerde buitelandse burgers. Ramaphosa het gister tydens ‘n vergadering met die koninklikes gesê hulle kan help om spanning te verlig, dialoog te bevorder en geweld te voorkom, terwyl hulle die gees van Ubuntu handhaaf. Hy het beklemtoon dat onwettige immigrasie nie die oorsaak van Suid-Afrika se uitdagings is nie, insluitend werkloosheid, armoede en misdaad.
# Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys en Opleiding het kommer uitgespreek oor die groeiende afhanklikheid van buitelandse akademici by Suid-Afrika se openbare universiteite, veral vir professorate. Die komiteevoorsitter, Tebogo Letsie, het aan SABC Nuus gesê dit duur voort ten spyte van jare se regeringsbelegging in die ontwikkeling van plaaslike akademiese talent. Letsie sê die Parlement wil vasstel of hierdie beleggings die nodige resultate lewer. Hy vra beter inligting oor universiteitspersoneel:
# Inwoners van Kaapstad en regoor die Wes-Kaap word versoek om voor te berei vir ‘n kragtige koue front wat vandag verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Geel Vlak 4 en Vlak 2 waarskuwings uitgereik vir ontwrigtende reën, skadelike wind en rowwe see. Swaar reënval kan oorstromings veroorsaak, terwyl sterk wind reise kan beïnvloed. Owerhede het nooddienste op bystand geplaas en inwoners gevra om geute skoon te maak, los items te beveilig en hul eiendomme voor te berei.
# Sportnuus:
# Motorsport: Die Mercedes-jaer, George Russell, het die voorste wegspringplek in die laaste kwalifiseringsrondte by die Oostenrykse Grand Prix verower, voor Ferrari se Charles Leclerc. Die uitslag volg te midde van ‘n drama toe Russell vir Leclerc en Lewis Hamilton verbygesteek het, ten spyte van geel vlae vir ‘n ongeluk deur Red Bull se Max Verstappen by die voorlaaste draai. Russell se spanmaat, Kimi Antonelli, wat net voor die Brit was, het ook die Verstappen-voorval geïgnoreer en vierde geëindig. Lando Norris van McLaren en Oscar Piastri was sesde en sewende agter Verstappen, wat vyfde klaargemaak het ten spyte van sy ongeluk.
# Sokker: Bafana Bafana speel vanaand teen Kanada in die FIFA Wêreldbeker-ronde van 32, en hoop om hulle onvergelyklike vertoning nog verder te voer. Kanada word afgerig deur Jesse Marsch en die span bekend vir hul hoë-intensiteit styl en aanvallende spel. Beide spanne het tot dusver vele geleenthede geskep, maar gesukkel om dit in punte te omskep. Ontleders sê die uitslag van die belangrike wedstryd sal bepaal word deur die span wat spel voor die doelhok meer klinies benader, met die wenners wat na die laaste 16 sal deurdring. Afskop is om negeuur.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sê hy steun Bafana Bafana voor hul FIFA Wêreldbeker-ronde-van-32-wedstryd teen mede-gasheer Kanada. Ramaphosa en die Kanadese premier Mark Carney het mekaar se spanne sterkte toegewens, maar ooreengekom om oor die uitslag te verskil. Ramaphosa het die span se verdedigende dissipline en aanvallende presisie geprys. Hy het die groep aangespoor om hul sterk vertoning by die toernooi voort te sit en vir ‘n plek in die laaste 16 te mik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….