Nuus 07:00
BULLETIN 27 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Interministeriële komitee bevestig verskerpte optrede teen onwettige immigrasie en verwante wetsoortredings
# ‘n Ligte vliegtuig tref Beijing se hoogste wolkekrabber
# En rugby, die Barbarians speel vanmiddag teen Wallis op Twickenham
# Die Interministeriële komitee oor Migrasie sê hy het optrede teen onwettige immigrasie en verwante wetsoortredings landwyd verskerp. Die optrede word deur verskeie wetstoepassingsagentskappe uitgevoer en is daarop gemik om die nakoming van immigrasiewette te versterk terwyl openbare orde en veiligheid gehandhaaf word. In ‘n media-inligtingsessie het die voorsitter van die komitee, Mmamoloko Kubayi, gewaarsku enigiemand wat immigrasiewette oortree of geweld aanhits, sal vervolg word:
Die Komitee sê intussen 30 Junie sal ‘n normale werksdag wees, ondanks die beplande betogings oor migrasiekwessies. Kubayi het aan die media gesê daar sal geen ontwrigting van ekonomiese of sosiale aktiwiteite wees nie en het die publiek aangespoor om met normale werksaamhede voort te gaan. Sy het gewaarsku teen waninligting, aanhitsing en vergelding, aangesien alle wetstoepassingsagentskappe op hul hoede is om openbare orde te handhaaf en enige voorvalle te voorkom:
# Die Johannesburgse Padagentskap sê Johannesburg se M2-snelweg kan in gevaar wees nadat onwettige mynbou, tonnels, erosie en vandalisme ernstige skade aan infrastruktuur onder die pad veroorsaak het. Die agentskap sê dele van die M1 en M2 het verswak, insluitend brugstutte, walle en plaveisel in gebiede soos Booysens- en Heidelbergweg. Hy werk saam met die metropolisie om brandpunte te monitor en dringende instandhouding uit te voer, terwyl langer termyn herstelwerk beplan word om die snelwegnetwerk te versterk en te beskerm.
# Vertroue in Suid-Afrika se siviele konstruksiesektor het tussen April en Junie onveranderd gebly, met die FNB/Buro vir Ekonomiese Navorsing se vertrouensindeks vir die siviele sektor wat bestendig gebly het op 43 punte. Dit dui daarop dat meer as die helfte van die maatskappye wat ondervra is, steeds ontevrede is met die huidige sakeomgewing. Die senior ekonoom van FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê hoë koste en wêreldwye onsekerheid het werksaamhede beïnvloed, maar verwag ‘n moontlike herstel as toestande verbeter en die vraag uit sektore soos energie, mynbou en vervoer voortduur.
# ‘n Klein vliegtuig het gistermiddag die hoogste gebou in die Chinese hoofstad getref. Dramatiese sosialemedia-beeldmateriaal uit Beijing toon puin uit die 109de verdieping van die CITIC-toring, ook bekend as China Zun, asook ‘n stertgedeelte van die vliegtuig en ‘n gebreekte venster van ‘n taxi op die grond. ‘n CNN-joernalis het gesien hoe mense wat uit die wolkekrabber ontruim is, op die strate naby die ingang bymekaarkom, saam met brandweerwaens, polisiemotors en ‘n ambulans. Dit is nie duidelik hoeveel ongevalle daar was of wat die omvang van die skade is nie.
# Rugby: Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk lei ‘n sterk Barbarians-span in vanmiddag se botsing met Wallis op Twickenham in Londen. Die span sluit in die voormalige Blitsbok-ster Werner Kok en 19 toetsspelers uit elf verskillende lande. De Klerk het verlede naweek teen dieselfde uitnodigingspan in Gqeberha gespeel, toe die Bokke met 80-31 gewen het. Wallis is vandag sonder sy Engeland-gebaseerde spelers, maar hoop om voort te bou op hul oorwinning oor Italië aan die einde van die Sesnasiesreeks. Die afskop is vanmiddag om drie-uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….