Nuus 18:00
BULLETIN 26 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 15-duisend Malawiese burgers word verwerk terwyl die regering die repatriasie-veldtog versnel
# Internasionale reddingspanne help soek na oorlewendes in Venezuela
# En tennis, Wimbledon se enkelspelkampioene sal elk 78-miljoen-rand in die sak steek
# Die Interministeriële Komitee oor Migrasie sê meer as 15-duisend Malawiese burgers is vir repatriasie verwerk as deel van ‘n voortgesette regeringsveldtog om hul terugkeer te bespoedig. Die komitee se voorsitter, Mmamoloko Kubayi, het voor die betoging op 30 Junie, op ‘n nuuskonferensie gesê die proses sluit bevestiging en koördinering met toepaslike owerhede in. Van die individue is reeds gerepatrieer terwyl ander steeds in tydelike sentrums is om verwerk te word:
# Die EFF in Gauteng sê die provinsiale begrotingsplan baan ‘n duidelike pad na die transformasie van dienslewering en die versterking van die township-ekonomieë. Die party het belangrike ingrypings verwelkom wat tydens die 2026/2027-begrotingstemming aangekondig is, insluitend stappe om verkrygingstelsels te verbeter, finansiële toesig te verskerp en geleenthede vir township-ondernemings en swart besighede uit te brei. Nkululeko Dunga van die EFF steun planne om vertragings met betalings aan diensverskaffers aan te spreek en mediese voorraadbestuur te versterk:
# Daar is gister in Laudium en Atteridgeville 337 verdagtes in hegtenis geneem tydens ‘n multidissiplinêre misdaadvoorkomingsoperasie. ‘n Woordvoerder van die Polisie, Johan van Dyk, sê die verdagtes is in hegtenis geneem vir misdade wat wissel van moord, poging tot moord en gewapende roof. Hy sê agt ondernemings is gesluit, terwyl drie beboet is nadat hulle versuim het om aan die bepalings van die Drankwet te voldoen:
# Internasionale reddingspanne het in Venezuela aangekom om te help soek na oorlewendes nadat minstens 235 mense dood en vier-duisend-300 beseer is in twee kragtige aardbewings. Staatsmedia berig daar is onder andere 80 Switserse reddingswerkers en ‘n span Mexikaanse hulpwerkers, met die Amerikaanse weermag wat toesig hou. Plaaslike spanne het deur die nag in puin van geboue gesoek, met oorlewendes wat om hulp geroep het. Die aardbewings, met sterktes van 7,2 en 7,5 het Woensdagaand ‘n minuut uitmekaar plaasgevind, met die tweede die sterkste aardbewing in Venezuela sedert 1900.
# Tennis: Die enkelspelkampioene wat oor net meer as twee weke op Wimbledon gekroon gaan word, sal elk meer as 78-miljoen-rand verdien. Die prysgeld is vanjaar met 20-persent verhoog nadat spelers gekla het hulle verdien nie genoeg van die grasbaan-Grand Slam-toernooi se inkomste nie. Altesaam 1,4-miljard-rand sal toegeken word, met eersteronde-verloorders wat steeds 1,7-miljoen-rand sal ontvang. Die naaswenners in die eindstryd sal elk 39-miljoen-rand ontvang. Wimbledon begin Maandag op die All England-klub in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-895-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-82-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….