Nuus 12:00
BULLETIN 26 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika sal voortgaan met sy buitelandse beleid van onverbondenheid
# Steenhuisen keur nuwe nuwe maatreëls vir bek-en-klouseer goed
# En rugby: Rassie is tevrede met die Bokke se voorbereidings vir die Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Engeland
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se langdurige beleid van onverbondendheid en strategiese outonomie beteken nie die land is neutraal of onbetrokke nie. Die Amerikaanse ambassadeur, Leo Bozell, het vroeër adjunkpresident Paul Mashatile se besoek aan China gekritiseer, asook ‘n Iranse ampsdraer se besoek aan Pretoria. Ramaphosa het aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê Suid-Afrika handhaaf diplomatieke betrekkinge met verskillende lande in die nastrewing van sy nasionale belange:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het nuwe nasionale maatreëls vir die beheer van bek-en-klouseer goedgekeur. Dis daarop gerig om veeboere gedurende uitbrekings ‘n duideliker pad na herstel te bied, terwyl dit ook Suid-Afrika se landbouhandel en biosekerheid beskerm. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê die belangrikste van die nuwe maatreëls is die risikogebaseerde roetes wat sekere handelsbedrywighede in tye van kwarantyn sal toelaat:
# Die Padongelukkefonds verwerp bewerings van die wanbetaling van afgehandelde eise aan de Broglio Prokureurs en sê rekords toon die onderneming bly die grootste enkele ontvanger van betalings die afgelope 20-maande. Volgens Moneyweb het die firma ‘n hofaansoek teen die fonds ingedien weens voortgesette wanbetaling van meer as 430 eise, ondanks skikkingsooreenkomste wat gesluit en hofbevele wat toegestaan is. Die fonds sê betalings aan de Broglio het van Oktober 2024 tot verlede maand 1,48-miljard-rand en een-duisend-608 eise beloop.
# Die Vryheidsfront Plus waarsku dat die omgewing in Gauteng onder ongekende druk verkeer. Hy sê grondwater word bedreig en die luggehalte is in verskeie gebiede onaanvaarbaar swak. Die provinsiale Omgewingsdepartement het slegs 63-persent van sy prestasieteikens bereik. Jaco Mulder van die VF Plus sê die grootste besoedelaars is dikwels munisipaliteite wat nie watersuiweringsaanlegte behoorlik in stand hou en waterbestuur doeltreffend toepas nie:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die hele span stem saam oor die verwagtings en standaarde vir die Nasieskampioenskap wat voorlê. Suid-Afrika speel volgende Saterdag op Ellispark in Johannesburg teen Engeland in die reeks se openingswedstryd. Hulle volgende kragmeting is op 11 Julie in Pretoria teen Skotland en ‘n week later in Durban teen Wallis. Erasmus is tevrede dat die nodige boustene gelê is. Hy is ook bly oor die spelers se waardevolle wedstryd-tyd teen die Barbarians en Zimbabwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-196-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-32-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….