Nuus 09:00
BULLETIN 26 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê die regering sal die toesig oor munisipaliteite wat uitdagings ervaar, verskerp
# Meer as agt-duisend buitelanders is in minder as twee weke deur Beitbrug gerepatrieer
# En Donald Trump sê die ooreenkoms met Iran beteken ‘n finansiële meevaller vir Amerikaanse boere
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het dringende optrede versoek om voortgesette bestuur, finansiële bestuur en uitdagings met verantwoordelikheid in plaaslike regering aan te spreek. Die Ouditeur-generaal se gekonsolideerde verslag oor die resultate van plaaslike regerings vir 2024/2025 wys net 15-persent van munisipaliteite het skoon oudits in die 2025-begrotingsjaar gehad; 28-persent het sedert 2021 verbeter en 15-persent het in dieselfde tydperk agteruit gegaan. Hlabisa sê die regering sal voortgaan om waar moontlik te ondersteun, maar daar moet toerekensvatbaarheid wees vir swak prestasie en volgehoue bestuursmislukking.
# Die Grensbestuursowerheid sê agt-duisend-230 Malawiese en Zimbabwiese burgers is in minder as twee weke deur die Beitbrug-grenspos gerepatrieer. Dit kom aanloop tot Dinsdag se beplande optogte teen onwettige immigrasie. Die owerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê buitelanders wat vir repatriasie aangemeld het, is in die teenwoordigheid van amptenare van hul onderskeie ambassades verwerk om hul identiteit, reisdokumente en nakoming van toepaslike immigrasievereistes na te gaan:
# Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het ‘n totale kern-begroting van 27,8-miljard-rand vir die 2026/2027-boekjaar ontvang. Hiervan is 3,2-miljard geoormerk vir openbare vervoerdienste. Die departement bestuur tans 16 gesubsidieerde buskontrakte wat bestaan uit 15 onderhandelde kontrakte en een tender-kontrak. Die LUR, Kedibone Diale-Tlabela, sê hulle fokus nou meer op padveiligheid en die beskerming van openbare infrastruktuur:
# President Donald Trump van Amerika vra sowat 181,5-miljard-rand van die Kongres om die landbousektor te versterk. Dit volg nadat die VSA/Israelse oorlog teen Iran tot wisselvallige kommoditeitspryse en hoë bedryfskoste vir boere gelei het. Dit sluit groot stygings in brandstof- en kunsmispryse in. Trump het gister boere, veeboere, beestelers en landbouprodusente van reg oor Amerika by die Withuis ontvang. Hy het belowe dat die herbouing van Iran na die oorlog ʼn groot hupstoot vir Amerikaanse boere kan beteken:
# Sokker: In Philadelphia het Nicolas Pepe se twee doele Ivoorkus se 2-0-oorwinning oor die nuwelinge, Curacao, verseker en bygedra dat hulle die eerste keer in Wêreldbeker-geskiedenis die uitklopfase haal. Die span van Ivoorkus het tweede in Groep E geëindig en kom Dinsdag óf teen Frankryk óf teen Noorweë te staan. In New Jersey het Ecuador die Duitse span, wat reeds kwalifiseer, met 2-1 verslaan om die rondte van 32 te haal as een van die hoogste derdeplek-spanne. Swede en Japan kwalifiseer albei vir die uitklopfase ná hul gelykop-stryd van een elk in Dallas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-903-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-8-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….