Nuus 16:00
BULLETIN 25 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die pleitooreenkoms met Matlala en waarsku teen toegeeflike geregtigheid
# Die Gautengse gesamentlike bedryfs- en intelligensiestruktuur is gereed vir 30 Junie se betogings
# En sokker: Ivoorkus kan die laagste span ooit op die wêreldranglys word om die Wêreldbeker-uitklopronde te haal
# Die DA veroordeel die Nasionale Vervolgingsgesag se pleitooreenkoms met die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala as verraad teen aanspreeklikheid. Die staat en die verdediging het tydens sy verskyning in die Pretoriase Handelsmisdaadhof ooreengekom op ‘n vonnis van 15-jaar, met sewe-jaar opgeskort, vir bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met ‘n Medicare24-polisietender van 228-miljoen-rand. Die DA se woordvoerder oor Justisie, Glynnis Breytenbach, sê Suid-Afrikaners verdien geregtigheid, nie ooreenkomste nie. Sy waarsku hierdie ooreenkoms hou die gevaar in om vorige mislukkings te herhaal waar korrupsiebeskuldigdes noemenswaardige gevolge vrygespring het.
# Die Gautengse gesamentlike bedryfs- en intelligensiestruktuur sê hy is ten volle voorbereid vir Dinsdag se beplande betogings. Die struktuur het ‘n geïntegreerde bedryfsplan ingestel wat wetstoepassingsagentskappe, Binnelandse Sake en gemeenskaps-belanghebbendes betrek. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê beamptes sal die reg op vreedsame betogings beskerm terwyl hulle teen geweld, intimidasie en misdadige bedrywighede optree. Sy waarsku daar kan tydelike verkeersontwrigtings wees:
# Die vakbondfederasie Cosatu vra Suid-Afrika, Botswana, Eswatini, Lesotho en Namibië om hul stelsel vir die verdeling van doeane‑inkomste te hersien. Suid-Afrika bied môre in Kaapstad die negende beraad van staatshoofde en regeringsleiers van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie aan. Die vyf lidlande sal belangrike kwessies bespreek rondom streeks-ekonomiese integrasie, nywerheidsontwikkeling en handelsamewerking. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê eenvormige tarief- en handelsreëls word toegepas op goedere wat van buite die streek ingevoer word:
# Sokker: Ivoorkus kan vanaand die eerste keer vir die Wêreldbeker-uitklopronde kwalifiseer wanneer hulle hul laaste Groep E-wedstryd in Philadelphia, Amerika, teen Curaçao speel. Die Afrika-span is tans tweede in die groep na Duitsland, wat reeds vir die ronde van 32 gekwalifiseer het. Ivoorkus het Ecuador geklop, maar teen die Duitsers verloor. Curaçao het vroeër 7-1 teen Duitsland verloor en gelykop gespeel teen Ecuador. Ivoorkus hoop om die laagste span op die wêreldranglys ooit te word om die volgende ronde te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-95-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-985-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê passasiers op Air Europa se eerste regstreekse vlug van Madrid na Gauteng kon die eerste keer die slim-besoekersinligtingsentrum op die OR Tambo-internasionale lughawe ervaar. Sy het voor die Nasionale Raad van Provinsies beklemtoon dat die papierlose platform besienswaardighede in al nege provinsies bekendstel. De Lille sê dit steun toerismegroei in ooreenstemming met die regering se strategie om regstreekse internasionale verbindings uit te brei. Sy het die bekendstelling ook beskryf as ‘n mosie van vertroue in Suid-Afrika se groeiende toerismesektor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….