Nuus 11:00
BULLETIN 25 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beantwoord vandag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies
# Die ampsklagkomitee stel ‘n sperdatum vir aanbevelings oor ‘n getuienisleier en ‘n verwysingsraamwerk
# En sokker: Bafana Bafana se kaptein is trots nadat hulle die Wêreldbeker-uitklopfase bereik het
# President Cyril Ramaphosa beantwoord vandag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies. Dit sluit in vrae oor die regering se ingryping by onwettige immigrasie en strenger grensbeheer. Hy sal ook praat oor maatreëls om misdaad-insypeling en korrupsie in wetstoepassingsagentskappe, intelligensiestrukture en ander staatsorgane te identifiseer en te verwyder. Die Presidensie sê Ramaphosa sal ook die jongste inligting verskaf oor die regering se stryd teen onwettige handel deur die Nasionale Program om Onwettige Handel te Ontwrig.
# Die Parlement se ampsklagkomitee het begin om ʼn getuienisleier te identifiseer en politieke partye tot 10 Julie gegee om kandidate te benoem en voorleggings oor die verwysingsraamwerk te doen. President Cyril Ramaphosa word ondersoek na die inbraak op sy plaas, Phala Phala, in 2020. Voorsitter Makashule Gana sê hulle het ook in beginsel ingestem dat bykomende spesialis-ondersteuning moontlik mag wees, soos ʼn forensiese ondersoeker en ‘n kenner van buitelandse valuta:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, is ontevrede met die Stad Johannesburg se vorderingsverslag, en gaan die Tesourie opdrag gee om die oordrag van fondse na die metro te staak. Hy het in ʼn brief aan burgemeester Dada Morero gesê die stap volg nadat die metro ʼn onbefondsde begroting aanvaar het, en sy voortslepende versuim om verkwistende besteding teen te werk. Johannesburg skuld Eskom 3,7-miljard-rand en Rand Water 1,2-miljard-rand. Godongwana gee die metro tot môre tyd om te verduidelik waarom die oordrag van fondse moet voortgaan.
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 32 mense is dood en meer as 700 beseer nadat twee aardbewings Venezuela se hoofstad, Caracas, getref het. Die dodetal gaan na verwagting styg. Die skuddings van 7,2 en 7,5 het 40 sekondes na mekaar voorgekom. Geboue het ingetuimel en die land se belangrikste lughawe is gesluit. Venezuela se tussentydse president, Delcy Rodríguez, het ʼn noodtoestand afgekondig. Sy sê honderde nooddienswerkers, insluitend van ander lande, soek na slagoffers wat onder die puin vasgekeer is.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hy is uiters trots op die karakter en ingesteldheid wat hulle getoon het toe hulle die Wêreldbeker-groep A-wedstryd teen Suid-Korea moes wen. Hugo Broos se span het in Monterrey 1-0 gewen en die eerste keer ooit deurgedring na die uitklopfase. Suid-Afrika kan Sondag in Los Angeles ‘n sterk aanslag van Kanada verwag. Williams sê die afgelope paar dae se kritiek het hulle motiveer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-608-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-982-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….