Nuus 18:00
BULLETIN 24 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema verdedig die Parlementêre proses in die Phala Phala-ondersoek
# Julius Mkhwanazi ontken die bewerings van kabeldiefstal
# En sokker, Relebohile Mofokeng van Orlando Pirates is op Forbes Africa se 30-onder-30-lys
# Die EFF-leier, Julius Malema het aan die Parlement se ampsklagskomitee wat die Phala Phala-saak ondersoek, gesê besluite is deur ‘n demokratiese proses geneem en deur ‘n meerderheid lede ondersteun. Malema verwerp bewerings dat ‘n parlementêre meerderheid uitkomste afgedwing het en sê koalisiepolitiek vereis betrokkenheid deur alle partye. Hy kritiseer ook die speaker se hantering van regsaansprake teen die verslag en voer aan die Parlement se belange is nie voldoende verdedig nie:
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het bewerings ontken dat hy betrokke was by kabeldiefstal in die Vaaldriehoek en die bewerings as “suiwer leuens” beskryf. Mkhwanazi het voor die Madlanga-kommissie gesê hy het bewyse ingedien wat toon die kabels wat herwin was, is gekoppel aan ‘n operasie in Mpumalanga wat gesteelde infrastruktuur van Kempton Park behels. Hy sê die ondersteunende dokumente, saakrekords en polisieverklarings weerspreek die bewerings:
# Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke sê munisipaliteite het ‘n indieningskoers van 98-persent vir finansiële state bereik, wat ‘n belangrike mylpaal in voldoening is. Sy het tydens ‘n inligtingsessie vir die Parlement se Komitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake gesê slegs twee munisipaliteite het nie state ingedien nie, teenoor tien verlede jaar. Maluleke waarsku verbeterings bly beperk weens volgehoue bevindinge van vrywaringoudits en swak infrastruktuurbeplanning. Sy beklemtoon die Vrystaat en Noordwes het steeds geen skoon oudits nie, terwyl die meeste van die land se skoon oudits uit die Wes-Kaap kom.
# Sokker: Orlando Pirates-aanvaller Relebohile Mofokeng is ingesluit op Forbes Afrika se 30-onder-30-lys vir 2026. Die erkenning beklemtoon ook die sterkte van Pirates se jeugontwikkelingsprogram. Mofokeng, algemeen bekend as “President Ama 2K“, is erken as een van Afrika se invloedrykste jong leiers en baanbrekers. Die sportkategorie-beoordelaar Fatma Samoura het die 21-jarige beskryf as een van Suid-Afrika se opwindendste jong sokkertalente.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-68-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-19-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte, die Re.Bag.Re.Use-inisiatief vier Wêreldherwinningsdag deur vyf jaar van die omskakeling van broodsakkies na nuttige items te vier. Die projek wat in 2021 begin is, gee werk aan 21 vroue wat byna 200-duisend broodsakkies herwin het en in items soos sakke, matte, hoede en huisdekor omskep het, met ‘n deel van die opbrengs wat plaaslike liefdadigheidsorganisasies ondersteun. Stigter Regine le Roux sê die inisiatief het die gewig van byna tien baba-olifante in plastiek uit die omgewing verwyder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….