Nuus 14:00
BULLETIN 24 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vrystaat bereik ‘n groot mylpaal met inentings teen bek-en-klouseer
# Frankryk word getref deur ‘n groot kragonderbreking te midde van rekordhitte in Europa
# En gholf: Die PGA-toer hersien sy kompetisiestruktuur in 2028
# Die Vrystaatse LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake, Elsabé Rockman, sê die provinsie het die mylpaal van ‘n miljoen diere verbygesteek wat teen bek-en-klouseer ingeënt is. Dis deel van Suid-Afrika se breër poging om uitbrekings te beheer en die veebedryf te beskerm deur die nasionale verspreiding van entstof teen die siekte. Rockman het aan die SABC gesê voortgesette inentings en streng biosekerheids-maatreëls is van kritieke belang om verdere verspreiding te verhoed:
# Vyf vermeende ontvoerders is in hegtenis geneem in ‘n intelligensie-gedrewe operasie wat ontvoeringsindikate in Gauteng geteiken het. Die inhegtenisnemings spruit uit die ontvoering van ‘n vrou in Edenvale verlede Woensdag, waarna ‘n losprys van twee-miljoen-rand by haar man geëis is. Die polisie het twee voertuie opgespoor en die verdagtes vasgetrek tydens ‘n beplande oorhandiging. Woordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê drie bykomende verdagtes word aangehou en twee slagoffers met geringe beserings is gered:
# Woolworths se onlangs-aangestelde groep-uitvoerende hoof en voormalige hoof van die kleinhandelaar se hoogs suksesvolle voedselafdeling, Sam Ngumeni, het ingrypende veranderinge aan die topstruktuur aangebring. Die maatskappy-veteraan van 30 jaar sê die veranderinge is gemik op die vereenvoudiging van sy korporatiewe struktuur, die verwydering van oorbodige funksies en om markgroei aggressief aan te dryf. Dit het onder meer gelei tot die vertrek van Nuholt Huisamen as hoof van die Mode-, Skoonheids- en Huisafdeling, en Spencer Sonn as klante-hoof.
Nuus uit die buiteland:
# Temperature in Europa het vandag weer gestyg nadat ‘n rekord-hittegolf duisende mense sonder krag gelaat en lugversorger-verkope ‘n hupstoot gegee het op ‘n vasteland wat swak toegerus is om verswelgende hitte te hanteer. ‘n Hittegolf in Frankryk het die eerste grootskaalse kragonderbreking van die jongste uiterste weer veroorsaak toe ‘n hitteverwante voorval met ‘n transformator sowat 68-duisend huishoudings in die noordwestelike Finistère‑streek sonder krag gelaat het. Meer as 90-persent van die Franse bevolking word blootgestel aan uiterste hitte, met temperature van 39- tot 41-grade Celsius wat verwag word.
# Gholf: Die PGA-toer gaan in 2028 ingrypende veranderinge instel as deel van ‘n tweevlak-reeksformaat. Die wêreld se voorste spelers sal deelneem aan die Kampioenskapsreeks wat uit 23 of 24 toernooie bestaan, insluitend die vier majors, wat van Januarie tot Augustus sal duur. Die laer tweede-vlak Uitdager-reeks sal gelyktydig plaasvind. Die voorsitter van die toer se Toekomstige Kompetisieskomitee, Tiger Woods, sê die veranderinge sal die sport beter maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-492-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-58-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….