Nuus 12:00
BULLETIN 24 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid ondervind ‘n toename in vertrekke voor die betoging-sperdatum
# Die Gautengse Onderwysdepartement vra verskoning vir die vertraging met die uitreiking van rapporte
# En sokker: Broos glo Bafana kan geskiedenis maak en die Wêreldbeker-ronde van 32 vir die eerste keer haal
# Die Grensbestuursowerheid sê meer as 12-duisend migrante het Suid-Afrika die afgelope vyf dae verlaat deur die Beitbrug-grenspos in Limpopo. Dit sluit meer as nege-duisend Malawiërs en drie-duisend Zimbabwiërs in wat gerepatrieer of gedeporteer is. Honderde Ghanese en Nigeriërs het ook vanaf die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng vertrek. Die owerhede sê die toename in beweging gebeur voor Dinsdag se beplande betogings teen onwettige immigrasie. Veiligheidsdienste bly intussen op ‘n hoë gereedheidsgrondslag.
Die voorsitter van die parlementêre komitee oor Polisie, Ian Cameron, vra die ministerie intussen om besonderhede te verskaf oor die 600-miljoen-rand wat opsygesit is om veiligheidsmaatreëls te versterk vir die betogings. Die waarnemende minister, Firoz Cachalia, het die uitgawe verdedig en sê grootskaalse veiligheidsoperasies is nodig wanneer daar pogings is om die land onbestendig te maak. Cameron sê die polisie moet wel voorberei vir enige betogings wat gewelddadig kan raak, maar is steeds verplig om rekenskap te gee van die onkoste.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het verskoning gevra aan leerders, ouers en skole wat geraak is deur vertragings met die uitreiking van rapporte. Dis veroorsaak deur tegniese probleme wat toegang tot die Suid-Afrikaanse Skooladministrasie- en -bestuurstelsel beïnvloed omdat die Citrix-omgewing wat die stelsel ondersteun, tydelik onbeskikbaar was. Die departement se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê stelsel-administrateurs en tegnici werk onverpoosd om die volle werking te herstel en toegang so gou moontlik te normaliseer:
# Die Departement van Binnelandse Sake sê 203 banktakke bied nou slim ID-vervanging aan deur sy vennootskap met die banksektor wat in Maart bekendgestel is. Minister Leon Schreiber sê toegang tot slim ID-dienste het binne drie maande met 73-persent verhoog. Hy sê die projek vervang die groen ID-boekies en sal identiteitsdiefstal verminder. Schreiber sê hul beoog om teen die einde van die jaar uit te brei na 750 banktakke:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, glo sy span het wat nodig is geskiedenis te maak wanneer hulle môre teen Suid-Korea speel in hul laaste Groep A-Wêreldbeker-wedstryd in Monterrey. Suid-Afrika sal die Oos-Asiatiese span moet klop en hoop die mede-gasheer, Mexiko, verslaan die Tsjeggiese Republiek sodat Bafana die eerste keer na die ronde van 32 kan deurdring. Broos verwag ‘n moelike wedstryd teen ‘n taai en fisieke Suid-Korea:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-620-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-79-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….