Nuus 11:00
BULLETIN 24 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlementêre komitee oor Polisie eis ‘n verduideliking vir die 600-miljoen-rand wat opsygesit is vir Dinsdag se verwagte betogings
# Iran se president sê die missielprogram is nie deel van die ooreenkoms met Amerika nie
# En sokker: Broos glo Bafana kan geskiedenis maak en die Wêreldbeker-ronde van 32 die eerste keer haal
# Die voorsitter van die parlementêre komitee oor Polisie, Ian Cameron, vra die ministerie om besonderhede te verskaf oor die 600-miljoen-rand wat opsygesit is om veiligheidsmaatreëls te versterk vir volgende week se verwagte betogings teen immigrante. Die waarnemende minister, Firoz Cachalia, het die uitgawe verdedig en sê grootskaalse veiligheidsoperasies is nodig wanneer daar pogings is om die land onbestendig te maak. Cameron sê die polisie moet wel voorberei vir enige betogings wat gewelddadig kan raak, maar is steeds verplig om rekenskap te gee van die onkoste.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging vra strenger optrede teen politieke geweld voor die plaaslike regeringsverkiesing in November. Dit volg op die naweek se reeks dodelike aanvalle in Kaapstad, Gqeberha in die Oos-Kaap, en die Gautengse Wes-rand waarin ‘n tussenverkiesingskandidaat, ‘n wyksraadslid en twee politieke partylede dood is. SALGA se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê politieke geweld bedreig demokrasie:
# Die vakverbond Cosatu in Gauteng verwelkom die omvattende hersiening van die provinsiale Verkeersbeampte-program wat daarop gemik is om misdaad te bekamp, openbare infrastruktuur te beskerm en volhoubare werksgeleenthede vir jongmense te skep. ‘n Nuwe gemengde model sal die program omskep in ʼn enkele Verkeersbeampte-korps wat oor drie spesialis-rigtings bedryf word. Cosatu se woordvoerder, Amos Monyela, sê die welslae sal afhang van behoorlike opleiding, voldoende hulpbronne, duidelike aanspreeklikheids-maatreëls en streng nakoming van wette:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se president, Masoud Pezeshkian, sê gesprekke oor sy land se missiele is nie deel van die ooreenkoms wat met Amerika gesluit is nie, en sal ook nooit wees nie. Dit volg ondanks president Donald Trump se bewerings dat Teheran ingestem het tot kerninspeksies deur die Internasionale Atoomenergie-agentskap. Die agentskap is gereeld in Iran sedert Israel se 12-dae lange oorlog verlede jaar, maar kon nie toegang kry tot die gebombardeerde uraan-verrykingsterreine wat Amerika geteiken het nie. Pezeshkian hou vol Teheran se missielprogram is noodsaaklik vir nasionale verdediging.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, glo sy span het wat nodig is geskiedenis te maak wanneer hulle môre teen Suid-Korea speel in hul laaste Groep A-Wêreldbeker-wedstryd in Monterrey. Suid-Afrika sal die Oos-Asiatiese span moet klop en hoop die mede-gasheer, Mexiko, verslaan die Tsjeggiese Republiek sodat Bafana die eerste keer na die ronde van 32 kan deurdring. Broos verwag ‘n moelike wedstryd teen ‘n taai en fisieke Suid-Korea:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-708-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en 86-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….