Nuus 09:00
BULLETIN 24 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê politieke geweld het geen plek in ‘n konstitusionele demokrasie nie
# ’n Belegging van meer as twee-duisend-miljard-rand is nodig vir ‘n nuwe opwekkingsvermoë
# En die Britse regering sal geen groot bestedingsverbintenisse aangaan totdat ‘n nuwe eerste minister verkies is nie
# ActionSA het die moord op raadslede en kandidate tydens die kieserregistrasie-naweek veroordeel en sê politieke geweld het geen plek in ‘n konstitusionele demokrasie nie. ‘n DA-tussenverkiesingskandidaat is die afgelope naweek in Kaapstad vermoor, terwyl ‘n ANC-wyksraadslid in Gqeberha doodgeskiet is. Twee MK-partylede is in Bekkersdal, Gauteng, doodgeskiet. Stephan Gerber van ActionSA sê kieserregistrasienaweke is bedoel om demokrasie te versterk deur landsburgers toe te laat om te registreer en voor te berei vir deelname aan die komende verkiesing:
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê terwyl die land na ‘n kleiner koolstofvoetspoor en die vestiging van ʼn groen ekonomie beweeg, word beleggings van 440-miljard-rand benodig vir nuwe transmissielyne. Die regering het ʼn teiken gestel van 102 gigawatt nuwe opwekkingsvermoë, bykomend tot die 14-duisend-500 kilometer transmissielyne wat gebou moet word om die netwerk uit te brei. Ramokgopa sê beleggings van sowat 2,2-duisend-miljard-rand is nodig vir nuwe opwekkingskapasiteit. Hy sê dit wat die regering in die energiesektor doen, maak 30-persent van die land se ekonomie uit.
# Die Vryheidsfront Plus sê in belang van inwoners ondersteun hy die Stad Ekurhuleni se 2026/2027-begroting ná wysigings, regstellings en bindende ooreenkomste van die ANC-geleide administrasie. Die begroting is na drie mislukte pogings gister tydens ʼn spesiale raadsvergadering aanvaar. ʼn VF Plus-woordvoerder, Jennifer Glover, sê vorige weergawes van die begroting het onrealistiese aannames, foute op dokumente en buitensporige tariewe bevat. Sy sê die hersiene begroting sluit ʼn verlaging van twee-persent tot 1,5-persent in op die voorgestelde verhoging in eiendomsbelasting:
# Downingstraat 10 sê die regering gaan geen nuwe beleidsaankondigings of bestedingsverbintenisse maak alvorens ‘n nuwe eerste minister aangestel is nie. Dit volg nadat Keir Starmer as eerste minister en leier van die Arbeidersparty bedank het. Die party se regerende liggaam sal ‘n tydskedule opstel om Starmer te vervang, met benoemings wat tussen 9 en 16 Julie ingedien moet word. Andy Burnham word deur baie as die voorloper beskou om Starmer te vervang. Die regering sê beleid waaraan tans gewerk word, onder meer die langverwagte verdedigingsbeleggingsplan, sal soos gewoonlik voortgaan.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner van Italië en voormalige topspeler Novak Djokovic van Serwië keer vir die eerste keer sedert die Franse Ope terug na mededingende tennis. Hulle sal aan die Giorgio Armani Tennis Klassiek-uitnodigingstoernooi in Hurlingham, Engeland, deelneem as deel van die voorbereiding vir Wimbledon, wat Maandag begin. Sinner en Djokovic sal by ander topspelers aansluit, soos die Italianer, Flavio Cobolli, plaaslike speler Cameron Norrie, Amerikaner Ben Shelton en Karen Khachanov van Rusland. Sinner se eerste wedstryd is vandag teen Norrie, en Djokovic kom teen Khachanov te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-542-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-55-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….