Nuus 06:00
BULLETIN 24 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia sê 30 Junie is ‘n gewone werksdag
# Die Waarnemerskommissie is bekommerd oor politieke geweld voor die verkiesing
# En rugby: Rassie sê Faf is steeds deel van die Bokke se toekomsplanne
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê 30 Junie moet ‘n normale werksdag bly, met mense wat vry is om hul ondernemings sonder ontwrigting oop te maak en te bedryf. Dis voor die verwagte betogings teen onwettige immigrasie. Volgende Dinsdag is die sperdatum wat deur groepe teen onwettige immigrasie gestel is vir onwettige buitelanders om Suid-Afrika te verlaat. Cachalia, wat gister ‘n operasionele plan vir die optogte van die Wes-Kaapse polisiebestuur ontvang het, sê die veiligheid en sekuriteit van mense en infrastruktuur is nie onderhandelbaar nie:
# Die Waarnemerskommissie vir Verkiesingskodes het kommer uitgespreek oor politieke geweld voor die plaaslike regeringsverkiesing in November. Dit volg na die moord op DA-wykskandidaat Sinovuyo Dyokwe in Du Noon in die Wes-Kaap. Die kommissie, wat bestaan uit godsdiens-leiers en leiers uit die burgerlike samelewing, glo ‘n vreedsame verkiesing is noodsaaklik om openbare vertroue en demokrasie te beskerm. Die Anglikaanse biskop van Tafelbaai, Joshua Louw, het alle politieke partye en ondersteuners versoek om geweld, intimidasie en haatspraak te vermy.
# Rise Mzansi sê die regering het minder prioriteite en meer privaat belegging nodig om sukkelende openbare dienste te herstel. Tydens die debat oor die Begrotingswetsontwerp in die Parlement het die partyleier, Songezo Zibi gesê baie regeringsdienste, insluitend hospitale, skole, die weermag en polisie, verkeer onder ernstige druk weens onderbefondsing, ondoeltreffendheid en korrupsie. Zibi voer aan dat hoewel begrotingstoewysings nooit genoeg is nie, kan beter bestedingskeuses en minder vermorsing ‘n beduidende verskil maak:
# Die burgemeester van die Stad Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, het die goedkeuring van die metro se 2026/2027-begroting verwelkom en dit beskryf as ‘n belangrike stap vir die verbetering van die lewens van inwoners. Die begroting van 71-miljard-rand is gister goedgekeur, na drie vorige mislukte pogings. Die deurbraak het gevolg op onderhandelinge tussen die ANC en die DA, met die opposisieparty wat ingestem het om die begroting te ondersteun nadat verskeie ondernemings in die finale raamwerk opgeneem is. Xhakaza sê die goedkeuring van die begroting verseker voortgesette dienslewering vir inwoners.
# Die Internasionale Maritieme Organisasie sê hulle begin met ‘n ontruimingsplan vir meer as 11-duisend seevaarders wat steeds in die Straat van Hormoes gestrand is. Dit volg op die ondertekening van die ooreenkoms tussen die VSA en Iran verlede week. Beperkings wat tydens die oorlog ingestel is, het die verkeer deur die kritieke deurgang ontwrig en duisende bemanningslede op skepe vasgekeer gelaat. Veertien seevaarders is in aanvalle tydens die konflik dood. Die organisasie sê hulle het die nodige veiligheidswaarborge verkry om die ontruimingsoperasie te ondersteun.
# Rugby: Die skrumskakel Faf de Klerk is uitgelaat uit die Springbok-groep vir die Nasieskampioenskapstoetse, maar afrigter Rassie Erasmus sê die 34-jarige is nog heeltemal deel van die groep se toekomsplanne. Hy het die 30-jarige Herschel Jantjies ingesluit, wat in 2023 laas vir Suid-Afrika gespeel het. Erasmus sê De Klerk het tyd deurgebring saam met die groep in die aanloop tot die wedstryd teen die Barbarians en dieselfde word met Jantjies gedoen, en die skrumskakel-moontlikhede sal oorweeg word na die toetse teen Engeland, Skotland en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-482-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-107-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….