Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na sokker: Die 38-jarige Lionel Messi het die voorste doelskieter in Wêreldbeker-geskiedenis geword. Hy het albei Argentinië se doele aangeteken in die oorwinning van 2-0 oor Oostenryk en sy land se plek in die uitklopfase verseker. Messi spog nou met 18 Wêreldbeker-doele, twee meer as Kylian Mbappé van Frankryk en Miroslav Klose van Duitsland. Frankryk is ook deur na die laaste 32 na ‘n oorwinning van 3-0 oor Irak. Noorweë is ook deur nadat Erling Haaland twee doele aangeteken het tydens die oorwinning van 3-2 oor Senegal.
# Rugby: Siphosethu Mnebelele sal die Junior Springbokke aanvoer op die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië nadat die slot Riley Norton in die senior Bok-groep ingesluit is vir die Nasieskampioenskap. Norton word vervang deur die veelsydige voorspeler Thomas Beling, terwyl die vleuel Cheslin Jooste in die plek van Vusi Moyo gekies is, wat ook vir senior diens opgeroep is. Akahluwa Boqwana vervang die vleuel Zekhetelo Siyaya, wat tydens Saterdag se wedstryd tussen Suid-Afrika A en Zimbabwe beseer is. Die afrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote, sê Norton en Moyo verdien beslis hul geleenthede.
Ander rugbynuus: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het die Suid-Afrikaans-gebore senter Benhard Janse van Rensburg en nog vier nuwelinge ingesluit in sy groep vir die eerste Nasieskampioenskap. Die 27-jarige sal nie beskikbaar wees vir volgende naweek se toets teen die Springbokke nie omdat sy verblyftydperk van drie jaar eers daarna in werking tree. Die skrumskakel Alex Mitchell is terug na ‘n besering. Engeland speel ook teen Fidji en Argentinië. Borthwick sê die groep is ‘n goeie mengsel van ervaring en opkomende talent.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse onder-19-vrouespan toer volgende maand die eerste keer ooit in Pakistan. Die veelsydige Mieke van Voorst is aangewys as kaptein van die groep van 15, wat ses spelers insluit wat vroeër vanjaar brons vir die land verower het in die Patricia Kambarami-bekertoernooi in Nigerië. Vyf internasionale kragmetings sal gespeel word, almal dag-aand-wedstryde in Karachi. Dit sal gebruik word as voorbereiding vir volgende jaar se onder-19-T20-Wêreldbekertoernooi in Bangladesj en Nepal.
# En tennis: 2023 se Wimbledon vroue-enkelspelkampioen, Marketa Vondrousova, is vir vier jaar geskors nadat sy geweier het om ‘n opkikkertoets te doen. Die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap het die 26-jarige Tsjeg aangekla nadat sy op 3 Desember verlede jaar geweier het om ʼn monster te voorsien toe ʼn opkikker-beheerbeampte een gevra het. Volgens Vondrousova het sy geestespanning en vrees ervaar toe die toets-agent laatnag haar deurklokkie sonder behoorlike identifikasie lui. ʼn Onafhanklike tribunaal het bevind sy het geen aanvaarbare regverdiging verskaf om die toets te weier nie. Sy is tot 21 Junie 2030 geskors.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….