Nuus 08:00
BULLETIN 23 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die Speaker se besluit om nie Ramaphosa se interdik teen te staan nie
# Die OVK is bemoedig deur die toename in jeugdeelname
# En die VSA het die sanksies teen Iranse olie tydelik opgehef
# Die DA is bekommerd oor die besluit deur die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om nie die dringende aansoek om ‘n interdik deur president Cyril Ramaphosa teen te staan om die werk van die Ampsklagkomitee te staak nie. Die Parlement sê die speaker het regsadvies en die onderskeie rolle van die Nasionale Vergadering en die Ampsklagkomitee deeglik oorweeg voor sy besluit het om die aansoek nie teen te staan nie. George Michalakis van die DA voer aan die komitee self het wel die regstatus het om die Parlement te verteenwoordig:
# Die Verkiesingskommissie sê hy is bemoedig deur die sterk deelname van jongmense die naweek tydens kiesersregistrasie. Die kommissie sê jeugdiges tussen 16 en 29 het ‘n beduidende deel van nuwe registrasies en algehele aktiwiteit uitgemaak in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in November. Die uitvoerende hoof van die kommissie, Sy Mamabolo, het aan die media gesê jong kiesers het ook nuwe registrasies oorheers, wat 80-persent van eerste kiesers verteenwoordig:
# Die voorsitter van die ANC-verkiesingskomitee en gewese president, Kgalema Motlanthe, het volgens berigte die party se uitvoerende streekskomitee in Johannesburg opdrag gegee om ‘n spesiale vergadering te belê om burgemeesterskandidate te benoem. Hy het in ʼn uitgelekte brief gesê vorige prosesse om burgemeesterskandidate te benoem voor November se munisipale verkiesing, was gebrekkig en teenstrydig met die party se grondwet. Motlanthe sê die burgemeesterskandidaat, Loyiso Masuku, is deur die uitvoerende komitee benoem, maar die ander twee kandidate is aangewys deur ʼn vreemde proses wat nie deursigtig en regverdig was nie.
# Die Amerikaanse Tesourie het die verbod op die verkoop van Iranse olie vir 60 dae opgehef. Dis een van die voorwaardes in die memorandum van verstandhouding tussen Washington en Teheran. Dit gee tot 21 Augustus toestemming vir die vervaardiging, verkope en lewering van Iranse ruolie en petrochemiese produkte. Iranse olie mag nou na Amerika ingevoer word, maar sluit transaksies uit wat Noord-Korea, Kuba of Russies-besette Oekraïne betref. President Donald Trump van Amerika sê die opheffing van sanksies teen Iran kan uitvoer van Amerikaanse plaasprodukte ʼn hupstoot gee:
# Rugby: Engeland se kaptein, Maro Itoje, kry ʼn blaaskans vir die komende Nasieskampioenskap-wedstryde teen Suid-Afrika, Fidji en Argentinië. Die 31-jarige Itoje het die Britse en Ierse Leeus verlede jaar tot ʼn reeksoorwinning teen Australië gelei, en daarna in die November-toetse en vanjaar se Sesnasies-veldtogte gespeel. Boonop is sy ma intussen oorlede. Hy het in elk van sy laaste twee veldtogte ook Wêreldrugby se aanbeveling van slegs 30 wedstryde per seisoen oorskry. Die haker, Jamie George, sal Engeland in sy plek aanvoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-906-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….