Nuus 18:00
BULLETIN 22 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie teken bykans 3-miljoen registrasies aan
# Die Madlanga-kommissie luister na kommunikasie tussen Mike van Wyk en Julius Mkhwanazi
# En sokker: Die toename in Wêreldbeker-weddenskappe lei tot wêreldwye regulatoriese ingryping
# Die Verkiesingskommissie sê bykans drie-miljoen kieserregistrasies is hierdie naweek met die oog op die plaaslike verkiesing op die 4de November aangeteken. Die kommissie se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het op ‘n nuuskonferensie gesê die kieserslys staan tans op ongeveer 28,5-miljoen. Mamabolo het ‘n tweede registrasienaweek vir Augustus aangekondig en bevestig aanlyn registrasie is nou sonder datakoste beskikbaar om toegang te vergemaklik:
# Die Madlanga‑kommissie het getuienis aangehoor wat dui op noue samewerking tussen die uitvoerende hoof van Medicare24, Mike van Wyk, en die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi. Die getuienisleier, Matthew Chaskalson, het boodskappe voorgehou wat na bewering toon hoe Van Wyk raad gee oor munisipale ooreenkomste en planne bespreek oor ‘n gespesialiseerde eenheid wat nie net mediese noodgevalle nie, maar ook misdaadreaksie en dwelmklopjagte sou hanteer. Daar was ook kommer dat die Metropolisie se hoof, Isaac Mapiyeye, moontlik opsy geskuif kan word:
# Die DA in Gauteng kritiseer die toestande by die Mohlakeng-hostel te midde van ‘n geskil oor verantwoordelikheid tussen die Gautengse LUR vir Menslike Nedersettings, Tasneem Motara, en die Wes-Rand Distriksmunisipaliteit, en sê inwoners is sonder basiese dienste, insluitend sanitasie, toilette en vullisverwydering. Mervyn Cirota van die party sê die provinsiale regering het versuim om beloofde opgraderings te implementeer, terwyl slegs ‘n paar hostels voordeel trek uit verbeterings. Cirota dring aan op die lewering van ordentlike behuising:
# Die SAPD het ‘n ondersoek van strafbare manslag van stapel gestuur nadat ‘n staatsbeheerde Iveco-bus gisteraand op die R300-snelweg tussen die Stellenbosch Deurpad en Kuilsrivier in Kaapstad aan die brand geslaan het. Beamptes het reageer op berigte van die brandende voertuig en dit in vlamme gevind. ‘n 40-jarige polisiesersant van Bishop Lavis SAPD, wat die bus bestuur het, is op die toneel dood. Die polisie sê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.
# Sokker: Die 2026 FIFA Wêreldbeker het groeiende verdeeldheid uitgelig tussen regerings oor voorspellingsmarkte en aanlyn weddenskappe. Miljarde dollars sal na verwagting tydens die toernooi gewed word, wat reguleerders in verskeie lande aanspoor om beperkings op hierdie platforms te verskerp. Lande, insluitend Spanje, Indië, Indonesië en Brasilië, het stappe gedoen om toegang te beperk, met verwysing na kommer oor dobbelary, finansiële regulering en markintegriteit. Bedryfsdeskundiges sê die vinnige groei van voorspellingsmarkte dwing regerings wêreldwyd om duideliker reëls vir hierdie opkomende sektor te ontwikkel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-974-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-189-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….