Nuus 17:00
BULLETIN 22 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAPD verhoog operasionele gereedheid met die oog op moontlike onrus op 30 Junie
# Malawiërs wat in Pietermaritzburg skuiling soek, neem steeds toe
# En sokker, die Bafana Bafana-speler Mbekezelli Mbokazi is onder die voorste jong verdedigers by die Wêreldbekertoernooi
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die regering is ten volle gereed om vrede en bestendigheid te handhaaf voor die verwagte betogings op 30 Junie. Cachalia het die media toegespreek na ‘n veiligheidsbeplanningsvergadering en gesê die polisie het operasionele gereedheid in alle provinsies verskerp, met verhoogde ontplooiings om gemeenskappe en kritieke infrastruktuur te beskerm. Hy het bygevoeg hoewel vreedsame betogings beskerm sal word, sal enige misdaad, geweld of pogings om openbare orde te ontwrig, ferm hanteer word:
# Die Madlanga-kommissie het WhatsApp-gesprekke tussen die uitvoerende hoof van Medicare24, Mike van Wyk, en die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala as dokumentêre bewys ontvang. Die getuienisleier, Matthew Chaskalson, het na boodskappe verwyswaarin Matlala beweer dat sy persoon ‘n nasionale kommissaris gaan wees, na berigte oor senior polisiebeamptes wat ondersoek kan word. In sy verklaring beweer hy Matlala het gepraat van verbintenisse met hooggeplaaste SAPD-lede, maar hy het hulle nooit hulle name genoem nie:
# Die aantal ontheemde Malawiese burgers in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, styg steeds na die moord Vrydag op ‘n 29-jarige Malawiese man by die Jika Joe informele nedersetting. Die voorval het volgens berigte honderde buitelandse burgers gedwing om uit hul huise te vlug en skuiling in kerke en moskees te soek. Owerhede het meer polisie in die gebied ontplooi om orde te handhaaf. Malawiese amptenare doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering en die Departement van Binnelandse Sake om ‘n tydelike repatriasiefasiliteit te vestig om persone te help wat vrywillig na Malawi wil terugkeer.
# Drie leerders is dood en verskeie beseer nadat twee van hul medeleerders by ‘n hoërskool in die sentrale dele van die Filippyne begin skiet het. Ondersoekers meen die twee tieners is aangevuur deur ‘n wrok oor afknouery. Een verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem en die tweede het homself later oorgegee. Die verdagtes was met ‘n rewolwer en ‘n pistool gewapen. Die pistool behoort aan ‘n polisievrou wat ‘n familielid van een van die verdagtes is. Wapengeweld is nie ongewoon in die Filippyne nie, maar ‘n skoolskietery is buitengewoon seldsaam.
# Sokker: Bafana Bafana se verdediger, Mbekezelli Mbokazi, is aangewys as een van die beste jong verdedigers in die Wêreldbekertoernooi tot dusver. Die Internasionale Sentrum vir Sportstudies het die 20-jarige vierde geplaas onder die onder-23-verdedigers na die eerste ronde. Mbokazi het beïndruk met sy sterk verdediging teen Mexiko, met onder meer onderskeppings en herstelpogings. Die voorste drie is Paul Okon van Nieu-Seeland, Jonas Adjetey van Ghana en Gavi van Spanje. Die erkenning kan lei tot belangstelling deur internasionale klubs.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-966-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-190-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….