Nuus 15:00
BULLETIN 22 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jub Jub se saak is vir verdere ondersoek uitgestel
# Keir Starmer bedank as Britse eerste minister en leier van die Arbeidersparty
# En rugby: Erasmus steun Pollard ná kritiek op sy swak spelpeil vir die Bulle
# Die saak teen die musikant en televisiepersoonlikheid Molemo “Jub Jub” Maarohanye is in die Germistonse Landdroshof in Gauteng tot 25 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy staan tereg op aanklagte van ontvoering, die onwettige afvuur van ‘n vuurwapen en regsverydeling na ‘n beweerde onderonsie met ‘n e-taxi-bestuurder in Edenvale. Aanklaers beweer die bestuurder is in ‘n voertuig gedwing en verhoed om te vertrek voor hy ongedeerd weggekom het. Maarohanye se borgtog van vyf-duisend-rand is verleng.
# Die Madlanga-kommissie het ‘n mediese beëdigde verklaring van Medicare24 se uitvoerende hoof, Mike van Wyk, aanvaar, waarop sy getuienis uitgestel is. Sy regsverteenwoordiger, Sandy du Plessis, sê hy het paniekaanvalle gekry. Van Wyk word verdink van onbehoorlike betrokkenheid by wetstoepassingsake en omstrede tenderverwante ooreenkomste met die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en die Ekurhuleni-metropolisie se geskorste adjunkhoof, Julius Mkhwanazi. Du Plessis sê sy psigiater het hospitaal-opname aanbeveel:
# Die Departement van Binnelandse Sake vra Suid-Afrikaners om hul slim ID-kaarte af te haal ná ‘n besige kieserregistrasienaweek. Byna ses-duisend nuwe aansoeke is verwerk, terwyl ongeveer drie-duisend-700 kaarte afgehaal is. Die departement sê slegs 115 tydelike ID-sertifikate is uitgereik, ‘n aanduiding dat die meeste burgers reeds geldige identifikasiedokumente het. Amptenare versoek mense om hul plaaslike kantore te besoek om uitstaande kaarte af te haal, en wys daarop die vraag het hoofsaaklik na vervangings van slim-ID’s verskuif namate die gebruik van die groen ID‑boeke afneem.
Nuus uit die buiteland:
# Keir Starmer het bedank as Brittanje se eerste minister en leier van die Arbeidersparty en sê sy besluit is geneem om die land eerste te stel en te aanvaar sy party sal hom nie meer beskou as die beste leier in die volgende algemene verkiesing nie. Hy bly in die amp tot ‘n nuwe Arbeidersleier gekies word en vra dat die proses afgehandel moet wees voor die Parlement in September heropen:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus glo die Bulle sal weer maklik by die nasionale opset inpas. Twaalf Bulle, wat die naweek nie beskikbaar was vir Bok-diens nie omdat hulle in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap gespeel het, is ingesluit in die groep van 46 vir die Nasieskampioenskap. Die losskakel Handré Pollard is gekritiseer vir sy swak spelpeil, maar Erasmus sê hy is ‘n uiters betroubare wedstrydwenner:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-390-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-206-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….