Nuus 12:00
BULLETIN 22 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Afrika moet deel wees van die wêreldreëls oor die bekamping van pandemies
# GOOD vra die OVK om kandidate se veiligheid te verseker ná die moord op ‘n DA-wykskandidaat in Kaapstad
# En die meerderheid van Iran se voorwaardes is nagekom met sankies op olie opgehef en bates vrygestel
# President Cyril Ramaphosa sê die Covid‑19‑pandemie en die onlangse uitbreking van Ebola in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda dien as ‘n herinnering dat Suid‑Afrika en die vasteland as geheel beter voorbereid moet wees op gesondheids-noodgevalle. Meer as 100-duisend Suid‑Afrikaners het tydens die pandemie gesterf en sowat twee-miljoen werksgeleenthede is verloor. Die dodetal weens Ebola het reeds 200 gevalle oorskry. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Afrika kan nie aanhou om tydens gesondheids-noodgevalle afhanklik te wees van internasionale vennote nie, en beklemtoon lande moet sterker gesondheidstelsels ontwikkel.
# Die waarnemende polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê planne is beraam om wet en orde te handhaaf tydens toenemende spanning oor immigrasie te midde van teen-immigrasieveldtogte en oproepe dat ongedokumenteerde buitelanders Suid-Afrika teen 30 Junie moet verlaat. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die naweek met bestuur vergader, waar hy ingelig is oor bedryfsplanne wat sal verseker dat betogings veilig en vreedsaam plaasvind. Dimpane sê onwettigheid sal nie geduld word nie:
# Die GOOD-party sê ‘n sluipmoord wat met kieserregistrasie verbind word, is ʼn aanval op die stem-proses en elke inwoner se reg om vry en sonder vrees deel te neem. ʼn DA-wykskandidaat in die tussenverkiesing in Dunoon, Kaapstad, Sinovuyo Dyokwe, is Saterdag vermoor. Jonathan Cupido van GOOD sê die Verkiesingskommissie, die metro en die polisie moet dringend die veiligheid van kandidate, party-werkers en registrasie-personeel hersien in aanloop tot die munisipale verkiesing:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê Amerika het sanksies op sy land se olie opgehef en sommige van sy bates wat in die buiteland gevries is, is vrygestel. Dit volg op die naweek se gesprekke tussen Washington en Teheran in Switserland. Die bemiddelaars, Katar en Pakistan, sê nadat die grootste deel van sy voorwaardes nagekom is, sal Iran nou toelaat dat sommige gesprekke plaasvind oor die toekoms van sy uraan-verrykingsprogram. Araghchi sê die moeilikste kwessie is steeds die Libanese krisis.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, en die snelbouler Gus Atkinson is ingsluit in die groep vir die derde en beslissende toets teen Nieu-Seeland wat Donderdag op Trent Bridge begin. Hulle is uitgelaat vir die tweede toets na ‘n onlangse voorval in ‘n Londense nagklub. Engeland het die tweede toets op die Oval met 253 lopies verloor. Die Engelse en Walliese Krieketraad het Stokes en Atkinson na ‘n ondersoek vrygespreek van gewelddadige gedrag, maar bevind hulle het spesifieke kontrakverpligtinge verbreek. Albei het ‘n skriftelike waarskuwing ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-133-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-190-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….