Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Masego Shiburi van die Verkiesingskommissie sê die meeste kieserregistrasies is die afgelope naweek in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap gedoen. Shiburi sê die meeste registrasies was afkomstig van jongmense wat vir die eerste keer registreer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het in reaksie op sy besluit oor John Steenhuisen gesê hy deins nie terug vir probleme nie. Dit volg nadat sekere groepe in die party sy besluit gekritiseer het.
En tweedens skryf die webblad met die voorgestelde verskuiwing van DA-lede in die kabinet kan president Cyril Ramaphosa ook besluit om veranderinge aan te bring.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf koning Misuzulu kaZwelithini het ‘n sterk pleidooi gelewer vir vrede en selfbeheersing te midde van toenemende spanning rondom migrasie. Hy het die Zoeloe-nasie aangespoor om geweld teen buitelandse burgers te verwerp.
En tweedens berig die koerant ook oor die nuwe jong kiesers wat geregistreer het.
# Sowetan:
Berig daar is ‘n skerp toename in banke wat wonings terugneem omdat die verbandpremies nie betaal word nie weens die stygende lewenskoste. Banke het ‘n beroep op die publiek gedoen om stappe te doen voordat dit te laat is.
# En The Citizen:
Skryf kerke wat hulself uitgespreek het teen xenofobie en die geweld teen buitelandse burgers het self nou die teiken geword van die betogings teen buitelanders.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die besluit van die speaker in die Nasionale Wetgewer, Thoko Didiza, om nie president Rampahosa se dringende interdik teen die werksaamhede van die Ampsklagkomitee teen te staan nie, is as bisar beskryf. Die meeste politieke partye het hulle daarteen uitgespreek.
En tweedens skryf die koerant die toergids wat in hegtenis geneem is na die dood van ‘n Kanadese toeris in die Kruger-wildtuin is na bewering ‘n direkteur van die maatskappy wat die uitstappie gereël het. Goodman Nkosi het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van vyf-duisend-rand vrygelaat.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die DA het die moord op sy tussenverkiesingskandidaat vir Dunoon Wyk-104, Sinovuyo Dyokwe, veroordeel. Sy is doodgeskiet op pad huis toe van die kieserregistrasielokaal. Sy is as ’n vriendelike en innemende mens beskryf.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die voormalige MK-partylede Duduzile Zuma-Sambudla en Nhlamulo Ndlela beplan om regstappe te doen teen hul verwydering uit die party. Hulle is verlede week geskors weens beweerde growwe wangedrag.
En tweedens word berig oor die regering se versekering dat alles onder beheer is ten opsigte van die beplande 30 Junie-betogings.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die verkiesing van die Nasionale Jeugraad Saterdagaand in Swakopmund is gekenmerk deur geweldadige aanvalle en aanrandings en die polisie moes traangas gebruik. Verskeie persone is beseer.
En tweedens skryf die koerant die betogers teen die nuwe spoedhobbels op Windhoek se westelike verbypad dreig om die besige roete te sluit, nadat die minister van Werke en Vervoer, Veikko Nekundi, nie Saterdag vir die oorhandiging van ‘n griefskrif opgedaag het nie.