Nuus 07:00
BULLETIN 22 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Duduzile Zuma-Sambudla en Nhlamulo Ndlela gaan regstappe doen oor hul skorsings uit die MK-party
# Downingstraat sê premier Starmer is vasbeslote om aan te hou veg
# En tennis: Serena Williams sal in die vroue-enkelspel by Wimbledon meeding
# Die voormalige MK-partylede, Duduzile Zuma-Sambudla en Nhlamulo Ndlela, beplan regsoptrede teen hul skorsing uit die party. Hulle is verlede week geskors weens beweerde growwe wangedrag wat verband hou met hul optrede rondom die dood van ‘n mede-partylid, Muzi Ntshingila. Die party beskuldig die twee dat hulle ongemagtigde openbare verklarings gemaak het wat eenheid in die party ondermyn en interne reëls oortree. Ndlela, wat die party se woordvoerder was, sê geen tugstappe is teen hulle gedoen nie en geen bevindings is bekendgemaak voor hulle verwyder is nie:
# Intussen sê Zuma-Sambudla sy voel nie verraai nadat haar pa, partyleier Jacob Zuma, haar uitgeskop het nie. Zuma-Sambudla, wat ook beskuldig word dat sy faksies bevorder het met haar openbare verklarings en inskrywings op sosiale media, sê sy het nog nie die skorsing met haar pa bespreek nie:
# Die Departement van Gesondheid sê hulle het geen formele skrywe van die Amerikaanse regering ontvang oor die volledige onttrekking van MIV/VIGS-befondsing deur PEPFAR nie. Dit volg na mediaberigte hieroor. Die woordvoerder van die departement, Foster Mohale, sê die regering werk al lank aan ‘n selfstandigheidsplan om die uitwerking van befondsingonttrekking te verminder. Dis sedert die aanvanklike bevriesing van buitelandse hulp en die kansellasie van USAID-toelaes in Januarie verlede jaar:
# Met die naderende sperdatum, het die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die publiek herinner om skriftelike kommentaar in te dien oor die 2026-konsepwetsontwerp op Tariewe en Monetêre Bedrae en die Wysiging van Inkomstewette. Die Konsepwetsontwerp op Tariewe beskryf aanpassings aan verskeie belastingdrempels, vrystellings en limiete, sowel as veranderinge aan aksynsbelasting op alkoholiese drankies en tabakverwante produkte. Die Tesourie sê die konsepwetsontwerp, wat die voorgestelde belastingwysigings bevat, is beskikbaar op die webwerwe van die Nasionale Tesourie en Inkomstediens.
# Keir Starmer is volgens berigte gereed om hierdie week as eerste minister van die Verenigde Koninkryk te bedank. Volgens The Observer, stel Starmer ʼn program op vir sy ordelike vertrek. Daar is toenemend druk op hom om uit te tree nadat belangrike ministers bedank het. Boonop maak Andy Burnham se oorwinning verlede week in die Makerfield-tussenverkiesing dit moontlik om die Arbeidersparty se leierskap uit te daag. Downingstraat sê egter Starmer is vasbeslote om voort te veg.
# Tennis: Die 23-malige Grand Slam-kampioen, Serena Williams, keer as promotorskeuse amptelik terug na die enkelspel-kompetisie vir vroue by Wimbledon. Die 44-jarige Amerikaner het in die Amerikaanse Ope van 2022 laas ʼn enkelspel-wedstryd gespeel. Sy het twee dubbelspel-wedstryde gespeel sedert sy vroeër die maand ná vier jaar na mededingende tennis teruggekeer het. Williams, wat die enkelspel-titel op Wimbledon sewe keer gewen het, is ook promotorskeuse saam met haar ouer suster, Venus, in die dubbelspel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-563-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-199-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….