Nuus 13:00
BULLETIN 21 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die lasbriewe vir twee senior polisiebeamptes word bespreek
# Die OVK sê jongmense maak die meerderheid van aanlyn registrasie-aansoeke uit
# En volgens ‘n koerantberig is die Britse premier gereed is om te bedank
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê die lasbriewe vir die inhegtenisneming van senior polisiebeamptes, Dumisani Khumalo en Nosipho Madondo, word tans deur die regering bespreek. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het Donderdag lasbriewe vir Khumalo en Madondo uitgereik. Die lasbriewe is egter teruggetrek aangesien hulle albei betrokke is by voorbereidings van ‘n nasionale veiligheidsoperasie vir die immigrasie-betoging wat vir 30 Junie beplan word. Ramaphosa het tydens die ANC se kieserregistrasieveldtog in KwaThema, Ekurhuleni, gesê wetstoepassingsagentskappe moet toegelaat word om hul werk te doen:
# Die Verkiesingskommissie het bevestig dat jongmense en nuwe kiesers die naweek die oorgrote meerderheid van aanlyn registrasie-aansoeke uitmaak. Masego Shiburi van die OVK sê teen gistermiddag is meer as 330-duisend kieserregistrasie-aansoeke verwerk. Ongeveer 300-duisend is op die kieserbestuurstoestelle by stemlokale verwerk, terwyl 30-duisend aansoeke deur die aanlyn platform was. Shiburi sê KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap het die meeste aansoeke gehad:
# Die Activists and Citizens Forum sê die besluit van die parlementêre speaker, Thoko Didiza, om ‘n kennisgewing in te dien om gehoor te gee aan die Wes-Kaapse Hooggeregshof se beslissing oor president Cyril Ramaphosa se interdik teen die Parlement se ampsklagproses, moet veroordeel en verwerp word. Forum-woordvoerder, Dennis Bloem, sê ‘n paar dae gelede het die meerderheid van die partye in die Ampsklagkomitee ooreengekom om die president se poging om die proses te staak, teen te staan:
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, het die moord op ‘n Malawiese burger en die aanranding van twee ander persone sterk veroordeel ná ‘n vermeende xenofobiese aanval in die JikaJoe-informele nedersetting in Pietermaritzburg. Die woordvoerder, Lindelani Mbatha, sê betogers het Vrydag teen buitelandse burgers in die gebied betoog. Na afloop van die optog het ‘n groep na bewering weggebreek na Jika Joe, waar ‘n Malawiese burger vermoor en twee ander ernstig beseer is.
# Die Britse koerant, The Observer, berig eerste minister Keir Starmer sal na verwagting Maandag bedank en ‘n tydlyn vir sy vertrek uiteensit. ‘n Regeringsbron sê egter Starmer bly gefokus om voort te gaan met regeringswerk. Die bedreiging vir Starmer se posisie, wat al maande lank opbou, het Vrydag skerp toegeneem toe sy mededinger, Andy Burnham, ‘n setel in die Parlement verower het wat hom in staat sal stel om die leierskap formeel uit te daag. Die Britse leier het Vrydag gesê hy sal enige uitdaging vir sy leierskap beveg en het die Arbeidersparty aangespoor om homself nie met binnegevegte uitmekaar te skeur nie.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het gisteraand ‘n groep van 46 spelers aangewys, bestaande uit ses nuwelinge en 12 terugkerende Bulle, vir die eerste Nasieskampioenskapswedstryd, wat op Saterdag 4 Julie teen Engeland in Johannesburg plaasvind. Die groep sluit in 28 voorspelers en 18 agterspelers, met Paul de Villiers, Riley Norton, Ruben van Heerden, Carlu Sadie, Vusi Moyo en Jaco Williams as die nuwelinge in die meestal ervare groep.
Die wedstryd teen Engeland word gevolg deur botsings teen Skotland in Pretoria op 11 Julie en Wallis in Durban op 18 Julie, voordat die Bokke na Buenos Aires reis om op 8 Augustus ‘n eenmalige toets teen die Pumas te speel. Die groep sal vandag in Johannesburg aankom om hul oefenkamp te hervat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….