Nuus 08:00
BULLETIN 20 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verskerp landwye optrede teen onwettige immigrasie
# Die DA vra stemgeregtigde kiesers om hierdie naweek te registreer vir die plaaslike regeringsverkiesing
# En sokker: Oorheersende oorwinnings vir Amerika en Brasilië in die Wêreldbeker
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê die regering en ander belanghebbendes het die veldtog teen onwettige immigrasie landwyd verskerp. Die owerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê hul het gister, in samewerking met die polisie en Binnelandse Sake, die terugkeer van 673 Malawiese en 202 Zimbabwiese burgers via Beitbrug gereël. Sy sê die Zimbabwiese burgers is met drie busse vanaf Gauteng vervoer, terwyl tien busse, vyf in Durban in KwaZulu-Natal en nog vyf in Kaapstad, ingespan is vir die Malawiese repatriasie-operasie.
# Die KwaZulu-Natalse polisie het bevestig ‘n 29-jarige buitelandse burger is gister dood in ‘n vermoedelike xenofobiese aanval in die Joe Jika informele nedersetting in Pietermaritzburg. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê ‘n groep mense het die slagoffer na bewering by Sable Flats Manor aangeval, maar die persoon het ontsnap en na die informele nedersetting gevlug. Hy sê die slagoffer het in ‘n rivier beland en is later op die rivierbodem gevind met ernstige kopbeserings. Die omstandighede wat tot die voorval gelei het word tans ondersoek.
# Die OVK se Kiesersregistrasienaweek skop die naweek af en die DA vra alle stemgeregtigde kiesers om vir die komende plaaslike regeringsverkiesing op 4 November te registreer. Sithembiso Ngema van die party sê inwoners in sekere provinsies leef reeds met die gevolge van swak bestuur, terwyl munisipaliteite aanhoudend sukkel met finansiële wanbestuur, verswakkende infrastruktuur en swak dienslewering. Hy beklemtoon munisipaliteite moet gemeenskappe dien, nie die politici nie:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê werkgewers wat versuim om werkers se pensioenbydraes oor te betaal, kan persoonlik aanspreeklik gehou word en gedwing word om uit hul eie sakke te betaal. Die Motorbedryf-bedingingsraad is besig om afdwinging te versterk met onder meer regstappe, om onbetaalde bydraes te verhaal. Die woordvoerder van die vereniging, Phakamile Hlubi-Majola, het werknemers versoek om te kyk wat aan hulle verskuldig is, aangesien miljarde rande se voordele onopgeëis is:
# Sokker: Brasilië het ‘n oorheersende 3-0 oorwinning oor Haïti in Groep C van die Wêreldbeker op die Philadelphia-stadion behaal. Matheus Cunha het twee keer in die eerste helfte doele behaal, terwyl Vinícius Júnior voor rustyd ‘n derde doel bygevoeg om drie punte aan die span te besorg. Vroeër in Groep C, het Marokko vir Skotland met 1–0 in Boston geklop danksy ‘n vroeë doel deur Ismael Saibari. Amerika het intussen in Groep D ‘n oorwinning van 2–0 teen Australië in Seattle behaal en hul plek in die laaste 32 bespreek.
# En ten slotte: Die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, het haar voormalige noue bondgenoot, die Amerikaanse president Donald Trump, Vrydag beskuldig dat hy ‘n storie oor haar versin het. Hy het aan ‘n Italiaanse TV-kanaal gesê sy het hom “gesmeek” om ‘n foto saam met haar by ‘n G7-beraad te neem. Meloni het hom ook berispe omdat hy groter respek betoon aan die vyande van die Weste as teenoor gevestigde bondgenote. Die jongste woordewisseling volg na tekens dat die twee leiers se voorheen gespanne verhouding verbeter het met die beëindiging van die Iranse oorlog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….