Nuus 07:00
BULLETIN 20 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die beplande arrestasie van Misdaadintelligensie-hoofde is afgelas weens nasionale veiligheidskwessies
# ‘n Buitelander sterf in ‘n vermoedelike xenofobiese aanval in Pietermaritzburg
# En rugby: Leinster behou sy VRK-titel met ‘n oorheersende oorwinning oor die Bulle
# Die beplande inhegtenisneming van die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en die hoof van Intelligensie-ontleding, generaal-majoor Nozipho Madondo is weens nasionale veiligheidskwessies afgelas. Die twee sou hulself gister by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria oorgee op aanklagte van bedrog, maar die proses is gestaak omdat Khumalo betrokke is by die monitor van teen-immigrante-betogings wat verband hou met die March and March-beweging. Die woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Kaizer Kanyago, verduidelik:
# Die KwaZulu-Natalse polisie het bevestig ‘n 29-jarige buitelandse burger is gister dood in ‘n vermoedelike xenofobiese aanval in die Joe Jika informele nedersetting in Pietermaritzburg. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê ‘n groep mense het die slagoffer na bewering by Sable Flats Manor aangeval, maar die persoon het ontsnap en na die informele nedersetting gevlug. Hy sê die slagoffer het in ‘n rivier beland en is later op die rivierbodem gevind met ernstige kopbeserings. Die omstandighede wat tot die voorval gelei het word tans ondersoek.
# AfriForum sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens se stilswye oor die stand van sy reservisteprogram wek ernstige kommer oor sy verbintenis tot misdaadbestryding. Die organisasie sê die SAPD versuim reeds langer as ‘n jaar om inligting beskikbaar te stel oor die werwing, opleiding en werksaamhede van reserviste. Jacques Broodryk van AfriForum het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, versoek om deursigtig te wees en die reservistestelsel dringend te versterk:
# Statistiek Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het met 1,3-persent in April gestyg, hoofsaaklik gedryf deur winste in meubel- en toestelwinkels, en kleinhandelaars. Verkope het ook met 0,9-persent op ‘n maand grondslag gestyg, wat voortgesette herstel toon na ‘n afname in Februarie. Raquel Floris van Statistiek SA sê oor die drie maande tot April was kleinhandelverkope 1,8-persent hoër vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Sri Lanka sukkel met die ergste uitbreking in jare van die muskiet-oordraagbare denguekoors, met meer as 44-duisend gevalle en 28 sterftes wat sedert Januarie aangeteken is. ‘n Amptenaar het gesê dit plaas openbare hospitale onder druk. Dengue is algemeen tydens Sri Lanka se moesonseisoen, maar onbeheersde verstedeliking en skade weens die sikloon Ditwah het die uitbreking vanjaar vererger. Die Nasionale Denguebeheereenheid sê ‘n totaal van 51-duisend gevalle is verlede jaar aangeteken en die infeksiekoers het sedertdien skerp gestyg. Die eenheid verwag dat infeksies vir ten minste twee weke nog sal toeneem.
# En rugby: Leinster het hul 2026 Verenigde Rugbykampioenskapstitel behou met ‘n oorheersende 36-7 oorwinning oor die Bulle op ‘n volgepakte Croke Park-stadion in Dublin gisteraand. ‘n Vroeë geel kaart vir die Bulle het die tuisspan die geleentheid gegee om die wedstryd te oorheers en hul het in die eerste helfte ‘n 22-0 voorsprong gehad danksy drieë deur Tommy O’Brien, Rieko Ioane en Jack Conan. ‘n Drie deur Ruan Nortje is nie toegelaat nie weens ‘n vorentoe-aangee en die Bulle se enigste punte het gekom van Canan Moodie se drie wat deur Handré Pollard verdoel is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….