Nuus 15:00
BULLETIN 19 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê die verhouding tussen Amerika en Suid-Africa is onder druk te midde van kommer oor befondsing
# Die forensiese deskundige Laurance Mokgotloe word borgtog van 15-duisend-rand toegestaan
# En rugby: Die Bulle is gereed vir enige uitdaging in Dublin
# Die vakbond Solidariteit vra die regering om dringend te reageer op Amerika se eise ná berigte oor die staking van die befondsing vir die President se Noodplan vir Vigsverligting. Die vakbond voer aan voortgesette vertragings om Amerika se bekommernisse op te los, insluitend oor landelike veiligheid, eiendomsregte, rasgegronde wetgewing en buitelandse beleid, kan tot verdere gevolge lei, insluitend hoër handelstariewe of sanksies. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê sterker handelsbetrekkinge en voortgesette beleggingsbande bly uiters belangrik.
# Die Landdroshof in Pretoria het die forensiese deskundige Laurance Makgotloe borgtog van 15-duisend-rand toegestaan. Hy word aangekla van die manipulering van belangrike bewyse in hoëprofiel-moordondersoeke. Dit sluit in die verwydering van bewysstukke en die wysiging van verslae oor die moord op die ingenieur Armand Swart in Vereeniging in 2024. Landdros Johannes Kruger het bevind die staat se kommer kan bestuur word deur streng borgtogvoorwaardes, en die saak tot 20 Augustus uitgestel:
# Die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika sê inkortings-vergoedingseise van ongeveer twee-miljard-rand vir onafhanklike kragprodusente word tans nagegaan en verwerk. Die onderneming het erken daar was ‘n tydelike knelpunt ná ‘n skerp toename in eise tydens April en Mei. Die energie-ontleder Chris Yelland sê hernubare energieprodusente is bekommerd oor vertragings in terugbetalings en ‘n gebrek aan deursigtigheid in besluite oor inperking. Die uitvoerende hoof, Monde Bala, sê bykomende hulpbronne is ontplooi om betalings te bespoedig, terwyl regverdigheid, netwerkbestendigheid en bekostigbaarheid vir verbruikers gehandhaaf word.
# Die DA in Gauteng sê talle gemeenskappe loop steeds deur onder ‘n kommerwekkende toename in ernstige misdaad, ondanks ʼn algemene afname in sekere belangrike kategorieë in die vierde kwartaal van die huidige boekjaar. Dit sluit in ontvoering, vragmotorkapings, voertuig-verwante misdaad en seksuele oortredings. Woordvoerder Crezane Bosch sê premier Panyaza Lesufi moet met die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, beraadslaag om intelligensie-geleide operasies te verskerp om ontvoering- en vragmotorkaping-sindikate te ontbloot:
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle is ongeag die weer in Ierland gereed vir Leinster in vanaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd. Hy sê hulle gaan die geleentheid geniet en alles uithaal. Die veld op Croke-park in Dublin is glo in ‘n onberispelike toestand, met ‘n 100-persent natuurlike grasoppervlak. Kaptein Marcell Coetzee sê dit is ‘n voorreg en ‘n groot geleentheid om in die eindstryd te speel, en die span wil die meeste daarvan maak. Afskop is vanaand half-nege Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-567-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-145-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….