Nuus 14:00
BULLETIN 19 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beleggingskorporasie vergader met die minister van Finansies om voortgesette bestuurskwessies op te los
# Die Britse eerste minister se belangrikste teenstander wen ‘n parlementêre setel
# En krieket: Die Protea Vroue besef hulle moet hulle foute regstel voor die wedstryd teen Indië
# Die Openbare Beleggingskorporasie en die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het vergader om verskeie voortgesette bestuurskwessies op te los in verband met die fonds se beleggingsbesluite en prestasie. Die korporasie, wat die pensioenspaargeld van 1,3-miljoen staatsamptenare bestuur, het ernstige bestuursoortredings en finansiële verliese verduur weens beleggingsbesluite wat dikwels persone met politieke verbintenisse behels. Die fonds, wat na raming beleggings van 3,6-duisend-miljard-rand beheer, sê hul het ooreengekom om ‘n program te ontwikkel wat die publiek en kliënte se kommer oor nalatenskapbeleggings in die korporasie se ongenoteerde portefeulje sal aanpak.
# Die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika het aanbeveel dat die heffing op goedkoop invoere van plastiekgrondstowwe uit China, bekend as P-E-T, tot 43,77-persent verhoog word. P-E-T is ‘n chemiese plastiekstof wat breedvoerig gebruik word om alledaagse plastiek goedere te vervaardig, veral deursigtige koeldrankbottels en voedselhouers. Die Suid-Afrikaanse produsent Safripol het aansoek gedoen vir ‘n hersiening en ‘n hoër tarief en aangevoer die vorige heffing van 28,89-persent is ondoeltreffend en kan die plaaslike bedryf benadeel.
# Andy Burnham van die Britse Arbeidersparty het Makerfield se tussenverkiesing gewen, wat die weg baan om eerste minister Keir Starmer uit te daag om die party-leierskap. Groter-Manchester se gewese burgemeester het Robert Kenyon van die Reform UK-party verslaan. Starmer het Burnham gelukgewens en sê kiesers het die party se veldtog van hoop en optimisme gekies bo verdeling en haat. Burnham sê sy oorwinning kan ‘n keerpunt vir die Arbeiders wees:
# Krieket: Suid-Afrika se vrouespan besef hulle sal op hulle beste moet wees in Sondag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Indië in Manchester, Engeland. Die Proteas se nederlaag teen Australië in hulle eerste groepwedstryd het hulle onder druk geplaas omdat slegs die voorste twee spanne in elke groep die halfeindronde haal. Suid-Afrika het Woensdag ‘n briljante afskop teen Pakistan verkwansel en uiteindelik met net twee paaltjies gewen. Die kolwer Annerie Dercksen erken hulle sal moet uitpluis wat verkeerd gegaan het voor die wedstryd teen die sterk Indiese span.
#Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-400-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-154-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Oudregter Mbuyiseli Madlanga versoek regspraktisyns om waardigheid, integriteit en openbare vertroue in Suid-Afrika se regsberoep te herstel. Die voorsitter van die Madlanga-kommissie het op Wits se Regsfakulteit gesê regskenners moet hulself as amptenare van die hof en vegters vir geregtigheid beskou. Hy beklemtoon regsetiek vereis eerbare gedrag. Madlanga erken die kommer oor onetiese gedrag, maar glo die oorgrote meerderheid bly etiese en toegewyde beroepslui:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….