Nuus 11:00
BULLETIN 19 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sê ‘n ooreenkoms tussen Amerika en Iran is die raamwerk vir blywende vrede in die Midde-Ooste
# Minister Tau sê die terugtrek van Tongaat Hulett se likwidasie verseker die toekoms van die suikerbedryf
# En sokker: Broos waarsku Bafana Bafana kan nie bekostig om Suid-Korea te onderskat nie
# Suid-Afrika sê die ooreenkoms van verstandhouding tussen Amerika en Iran bied die raamwerk vir blywende vrede en streeksbestendigheid in die Midde-Ooste. Dit sluit in dat die Seestraat van Hormoes heropen word, Amerika sanksies teen Teheran ophef en samesprekings gevoer word om ʼn finale ooreenkoms te bereik. Chrispin Phiri van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die ooreenkoms bied geleentheid om alle uitstaande kwessies uit die weg te ruim:
Vandag se beplande samesprekings tussen Amerika en Iran in Switserland is intussen gekanselleer. Die Withuis skryf dit toe aan onopgeloste logistiek in die volgende onderhandelingsfase nadat die twee lande hulle daartoe verbind het om binne 60 dae ‘n finale ooreenkoms te bereik. Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sou die onderhandelings lei. Iran het ook sy afvaardiging se vlug gekanselleer weens Israel se voortgesette aanvalle op Hisbolla in Libanon. Vandag se vergadering was bedoel om onderhandelings, hoofsaaklik oor kernwapens, te begin, soos in die ooreenkoms van verstandhouding uiteengesit.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die staking van Tongaat Hulett se likwidasie is ‘n belangrike mylpaal in die beveiliging van die toekoms van die suikerbedryf. Dit volg nadat ‘n ooreenkoms tussen die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en Vision Consortium 250-duisend werkgeleenthede gered het. Tau sê die moontlikheid van likwidasie het nie net gevare vir werkers en kwekers ingehou nie, maar ook vir verskaffers, vervoeroperateurs, klein ondernemings en die groter ekonomie. Die maatskappy is onder sakeredding geplaas na ‘n ineenstroting weens wanbestuur.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê hulle beweeg van noodreaksie na langtermynherstel ná die hewige storms wat die provinsie onlangs getref het. Twaalf mense is dood en die skade beloop meer as nege-miljard-rand. Werkers het ongeveer 70-persent van die paaie wat gesluit was, heropen terwyl Eskom elektrisiteitstoevoer herstel het na 97-persent van inwoners wat deur onderbrekings getref is. Winde sê terwyl noodtoegang grootliks herstel is, bly uitgebreide skade aan padinfrastruktuur ʼn groot probleem:
# Sokker: Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, sê hulle kan Suid-Korea nie onderskat in Donderdag se allerbelangrike Groep A-Wêreldbekerwedstryd nie. Die mede-gasheer, Mexiko, is reeds deur na die laaste 32 en Suid-Korea is tans tweede in die groep, gevolg deur die Tsjeggiese Republiek en Suid-Afrika. Broos het Suid-Korea se gestruktureerde spel as die belangrikste uitdaging beskryf:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-843-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-150-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….