Nuus 08:00
BULLETIN 19 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê sommige kritiek teen swart ekonomiese bemagtiging is rassisties
# Generaal Mkhwanazi sê ‘n “oorlog” dreig in die land se wetstoepassingstrukture
# En OUTA waarsku kragonderbrekings in Johannesburg sal voortduur
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê mense wat gekant is teen swart ekonomiese bemagtiging, wat ontwerp is om die ekonomiese ongelykhede van die apartheid-era aan te spreek, toon tekens van rassisme. Die vakbond Solidariteit daag die B-BBEE-verkrygingsraamwerk in die Konstitusionele Hof uit. Godongwana verwerp die idee dat hervorming en ekonomiese groei wedersyds uitsluitend is en sê strukturele hervorming is ook nodig. Hy voer aan bemagtiging kan nie tot finansiële transaksies beperk word nie; dit moet ook ‘n manier wees om mense gelyke geleenthede te gee.
# KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het die toenemende spanning in die land se wetstoepassingstrukture as oorlog beskryf. Dit volg nadat hy, die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en generaal-majoor Nozipho Madondo gister opdrag gekry het om by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aan te meld. Dit het aanleiding gegee tot bespiegeling oor inhegtenisnemings. Die Teenkorrupsie-ondersoekeenheid het dit egter ontken. Mkhwanazi het aan Newzroom Afrika gesê dis ‘n bewys van uitgebreide interne konflik in die leierskap van die SAPD:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê inwoners van Johannesburg moet nie aanvaar die risiko van elektrisiteitsonderbrekings is verby nie, al het Eskom sy openbare deelnameproses met 30 dae verleng. Die organisasie voer aan die verlenging los nie die onderliggende dispuut op nie, aangesien die Stad Johannesburg en City Power steeds miljarde in uitstaande skuld het. Julius Kleynhans van OUTA sê die bedreiging van moontlike toevoeronderbrekings duur voort te midde van voortgesette gesprekke:
# Amerika se visepresident, JD Vance, sê die tydperk van 60 dae om ʼn finale ooreenkoms met Iran te bereik, soos in die pas ondertekende memorandum van verstandhouding uiteengesit is, het begin. Die ooreenkoms bestaan uit 14 punte, wat die opening van die Straat van Hormoes insluit, asook die vereiste dat Iran nooit ʼn kernwapen mag hê nie. Vance sê as deel van die finale ooreenkoms verwag hulle dat Teheran nie in staat sal wees om missiele te vervaardig wat die hele wêreld bedreig nie:
# Gholf: Die 2023-kampioen, Wyndham Clark, loop met ses onder baansyfer voor by die Amerikaanse Ope, waar hy nog twee putjies van sy eerste rondte moet speel. Dit volg nadat 50 spelers by Shinnecock Hills in New York weens donkerte nie die rondte kon voltooi nie. Die Amerikaner is vier houe voor die res en agt spelers is gelykop tweede op twee onder, insluitend Matt Fitzpatrick van Engeland en die Spanjaard, Jon Rahm. Die Meesterskampioen, Rory McIlroy, staan op een onder 69, en Scottie Scheffler, wat ʼn loopbaan-Grand Slam najaag, het 72.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-504-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-168-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….